Sida !Hub Gemeenskaplike Eiendom Vereniging

© Roger DelaHarpe

Die Richtersveld Gemeenskap

Die Sida !Hub Gemeenskaplike Eiendom Vereniging (GEV) in die Richtersveld is gevorm om ’n grondeis vir die Alexkor eiendom, wat 85 000 km langs die kus vanaf Port Nolloth na Alexanderbaai behels, in te sit. Dit is voor die gespesifiseerde datum van 31 Desember 1998 ingesit en is in 2000 deur die Grondeisehof aangehoor. Die eisers was verskeie plaaslike gemeenskappe en belanghebbendes naamlik die volwassenes van die Richtersveld-gemeenskap, die Kuboes-gemeenskap, die Sanddrift-gemeenskap, die Lekkersing-gemeenskap en die Eksteenfontein-gemeenskap. As gevolg van die waardevolle aard van die eis, is dit hewig deur Alexkor Beperk en die regering van die Republiek van Suid-Afrika bestry.
Die verweerders, Alexkor en die regering, het alles wat hulle moontlik kon opgehaal. Daar is gesê dat die Richtersvelders nie ’n regte gemeenskap was nie; dat hulle nie die grond “bevoordeel” het nie omdat hulle ’n nomadiese leefstyl het en dat hulle die grond verloor het weens die 1847-anneksasie van Namakwaland wat buite die mandaat van die 1913 einddatum val. Alhoewel die meeste van hierdie taktieke nie die guns van die regters kon wen nie, het die uitspraak in 2001 beslis dat die eis ongeldig is. Dit was hoofsaaklik omdat die hof bevind het dat die gemeenskap nie as gevolg van enige rasse diskriminerende wette uit die land verwyder is nie. Die wit boere en prospekteerders is ook met dieselfde proses verwyder.

Ten Gunste van die Gemeenskap

Daar is teen hierdie bevinding geappelleer en die Appèlafdeling van die Hooggeregshof het die Grondeisehof se besluit omgekeer en bevind dat hulle ontneming as gevolg van ’n rasse diskriminerende praktyk ontstaan het. Dit was gegrond op en is uitgevoer vanuit die veronderstelling dat as gevolg van die gebrek aan beskawing waartoe hulle ras onlosmaaklik gekoppel was, hulle geen regte op die grond gehad nie. Rondte twee is dus aan die Richtersveld gemeenskap toegestaan.
Alexkor en die regering het egter teen hierdie appèl appèl aangeteken en die saak na die Konstitusionele Hof geneem. Die Konstitusionele Hof was ook ten gunste van die gemeenskap en die grond is in 2003 uiteindelik en onomwonde aan die Richtersveld gemeenskappe gegee. Jare van onderhandelinge het gevolg en in April 2007 is daar ’n ooreenkoms tussen Alexkor en die Richtersveld gemeenskappe gesluit.
’n Paar weke voordat die ooreenkoms by die Grondeisehof vir finale bekragtiging ingedien is, het ’n rebelse groep Richtersvelders ’n klag teen die reeds ondertekende kontrak ingedien. Blykbaar was daar ’n paar problematiese klousules en daar is beweer dat die groter gemeenskap nie oor die besonderhede van die ooreenkoms geraadpleeg is nie.

’n Groot Geleentheid

Vir ’n paar senutergende weke het dit gelyk of dit nêrens gaan kom nie. Gelukkig was daar ’n aantal onderhandelinge op die laaste minuut en die krisis is suksesvol opgelos. Op 9 Oktober 2007 het regter Antonie Gildenhuys van die Grondeisehof die hersiene ooreenkoms bevestig. Die regstryd het amper 10 jaar geneem en die regering meer as R 50 miljoen gekos, maar die mense van die Richtersveld het getriomfeer. Op 1 Desember 2007 het die Minister van Openbare Ondernemings, Alec Erwin (die man verantwoordelik vir die betwisting van die eis) en die Minister van Landbou en Grondsake, Lulu Xingwana, formeel die transportaktes aan die Richtersveld se leiers oorhandig.

Die Finale Skikking

Die finale skikking, wat meer as R 440 miljoen werd is, is bedoel om die gemeenskap te voorsien van ’n soort vergoeding vir al die diamante wat voorheen uit hulle grond onttrek is. Dit voorsien ook ’n finansiële grondslag vir toekomstige ontwikkeling. Meer belangrik nog, vir die eerste keer in die moderne geskiedenis, erken dit die grondregte van die Richtersveld-gemeenskappe. In hierdie sin het die stryd om meer as geld gegaan. Dit was om die Richtersvelders ’n nuwe gevoel van trots in hulle kulturele identiteit te gee en dit het reeds tot die vernuwing van eens verwaarloosde tradisies gelei.
Kortliks is die hoof terme van die Alexkor-transaksie soos volg: Die staat sal 194 600 ha grond oorhandig, insluitende die kritieke 84 000 ha diamantgebied langs die kus en ’n strook vrugbare grond langs die Oranjerivier wat tans vir sitrus, oester en volstruis boerdery gebruik word. Dit sal ook aan die gemeenskap ’n buitengewone kompensasie bedrag van R 190 miljoen gee plus ’n ontwikkelings bydrae van R 50 miljoen. Verder sal die Richtersvelders en Alexkor ’n gesamentlike mynbou-onderneming betree waarin die gemeenskap ’n 49% belang sal hê.
Hierdie deel van die transaksie is egter nie so groot soos dit klink nie, want Alexkor verloor al ’n hele paar jaar lank geld. Die stabiliteit van die gemeenskap sal egter die staat toelaat om in ’n broodnodige herkapitaliseringsprogram van R 200 miljard te belê.

Transformasie

Daar is nog meer! Die Alexkor-dorpie Alexanderbaai sal na die gemeenskap oorgedra word en Alexkor sal R 45 miljoen betaal om sy personeel vir die volgende 10 jaar daar te laat bly. Danksy die pogings van die gemeenskapslede word alle Alexkor werksaamhede nou ook deur die staat onderskryf, veral ten opsigte van die rehabilitasie van die landskap ná dekades van mynbou. Dit kan baie bykomende miljoene kos.
Dus is dit goeie nuus vir almal! Wie presies is hierdie “gemeenskap” wat al die voordele sal kry? Wel, die eienaarskap van die grond moes eers in terme van die Transformasie van Sekere Landelike Gebiede Wet van 1998 bepaal word. Kragtens hierdie wet kan gemeenskappe self besluit of die eienaarskap van die voormalige kleurlingreservaat by ’n Gemeenskaplike Eiendom Vereniging (GEV) ingedien moet word, oorgedra word aan ’n plaaslike munisipaliteit of verdeel word tussen individuele eienaars.

‘n Blink Toekoms

In 2002 het die verskillende gemeenskappe in die Richtersveld daartoe ingestem om die eienaarskap van die grond na ’n GEV wat die land namens die mense sou besit en administreer oor te plaas. Hierdie entiteit is reeds die vorige jaar as die Sida! Hub GEV gevestig. Dit sluit elke volwasse lid van die vier Richtersveld-gemeenskappe naamlik Eksteenfontein, Kuboes, Lekkersing en Sanddrif in. Volwasse lede is diegene bo die ouderdom van 18 jaar oud wat vir vyf jaar of meer in een van die gemeenskappe gewoon het. Die doelwitte van die GEV is onder meer die verbetering van die infrastruktuur, ontwikkeling van landbou en toerisme en die skep van ekonomiese geleenthede vir werkskepping asook kapasiteitsbou van komiteelede sodat hulle die regte besluite namens die gemeenskap kan neem.
Om dit alles te bereik het die GEV vier kommersiële maatskappye ingestel om hulle belange te bedryf. Daar is ’n landboumaatskappy wat die plase langs die Oranjerivier sal ontwikkel. ’n Omgewingsrehabilitasie maatskappy gaan die skade wat oor die jare deur die mynbou gedoen is omdraai. ’n Eiendomsbeheermaatskappy sal verantwoordelik wees vir die verhuring van die huise in Alexanderbaai. Daar is ook ’n mynmaatskappy wat die gemeenskap se 49% besit in Alexkor sal administreer.
Die opbrengste van die 4 maatskappye gaan in ’n ontwikkelingsmaatskappy en ’n gemeenskapstrust in. Elke afdeling van die GEV het ’n direkteur van elke gemeenskap sowel as onafhanklike direkteure wat deur die GEV of die trustees aangestel is. Daar is ook ’n bewaringsvereniging ingestel om toesig te hou oor die toerisme- en omgewingsaktiwiteite van die GEV. Die toekoms lyk dus blink vir die Richtersveld.

Translated by Ananda Schoeman