Die Richtersvelders

Nomadiese Veeboere

©Roger de la Harpe
In 1957 het die “kleurlingreservaat” van die Richtersveld ’n tasbare grens gekry. ’n Heining is tussen die gemeenskaplike grond en die plase langs die rivier en kus opgerig. Dit het fisies die beweging van die nomadiese veeboere beperk en nog ’n spyker in die kis van hulle tradisionele leefstyl geslaan.
As gevolg hiervan is die oorblywende grond oorbewei en die bestaansboerdery van die veeboere het onvolhoubaar geword. Baie mense het hulle statte verlaat en na die myne, plase, vissersbote, dorpe en selfs stede verhuis om werk te soek. Die tradisionele Richtersveld gemeenskap was besig om af te neem. Selfs vandag beskou minder as 10% van die Nama hulleself as boere en die meeste van hulle is bejaardes.
Die ou voorraad poste word nog steeds deur bejaardes bewoon wat slegs naweke en vakansies deur hulle kinders besoek word. Dit is immers ’n moeilike lewe in die natuur. Die veeboere moes op baie min water in die veld oorleef. Dit is dikwels brak met hoë vlakke van fluoried en ander onsmaaklike minerale. Hierdie water veroorsaak wit vlekke en donkerbruin verkleuring van die tande. Dit word soms die “handelsmerk” van Namakwaland genoem.

Regte en Verpligtinge

Intussen het die diamantbedryf aan die kus floreer. In 1989 is die Alexanderbaai-ontwikkelingskorporasie deur die regering gestig met die doel om al die bates, laste, regte en verpligtinge van die Staat se alluviale opgrawings oor te neem. Hierdie groot transaksie het die eienaarskap van die grond rondom die Oranjeriviermond en al die pragtige diamante daar ingesluit. Drie jaar later is hierdie entiteit deur die parlement verander in ’n maatskappy met die naam Alexkor Beperk en die regering as enigste aandeelhouer. Die transportaktes en meegaande mineraleregte is in 1995 na Alexkor oorgedra.
Verandering was egter in die lug! Die demokratiese verkiesings van 1994 het ’n nuwe era van grond restitusie tot gevolg gehad en baie gemeenskappe het die nuwe regering genader vir vergoeding. Gevolglik is ’n nuwe wet naamlik die Wet op Herstel van Grondregte in 1994 uitgebring. Hierdie wet het dit vir gemeenskappe of individue wat geglo het dat hulle onregmatig van hulle grond verwyder is moontlik gemaak om ’n grondeis in te dien. Die hoofdoel was om voorsiening te maak vir die herstel van grondregte aan individue of gemeenskappe wat sodanige regte na 19 Junie 1913 as gevolg van vorige ras diskriminerende wette of praktyke verloor het. Daar is 69 000 grondeise daarna regoor die land ingedien.

Translated by Ananda Schoeman