Sangiovese

© Vititec

Naam

Sangiovese

Beskrywing

Sangiovese is die hoof rooi kultivar van Toskane in Italië waar die bekende Cianti wyne geproduseer word. Sangiovese was die hoofbestanddeel in hierdie wyne en word aan die ronde bottels en strooi omhulsel uitgeken.

Dit is ’n antieke druifvariëteit wat in 1590 vir die eerste keer in Italiaanse literatuur genoem is en word tans in Amerika, Argentinië en Australië gevind. Daar is ’n beperkte aantal aanplantings in Suid Afrika. Sangiovese is ’n groot druif ‘familie’ soos gesien kan word in die hoë intra-variëteit fenotipiese variasies.

Oorsprong

Italië

Ander Name

Sangiovese het meer as tien klone en die 86 sinonieme verwys dikwels na ’n spesifieke kloon. Baie van hierdie sinonieme voeg ’n ekstra aanduiding na Sangiovese soos ‘dolce’ of ‘grosso’. Dit is ook bekend as Brunello, Lambrusco en Chiantino, maar in Suid Afrika word net Sangiovese gebruik.

Produksie in Suid Afrika

Daar is beweer dat Sangiovese al in die 1970’s in Suid Afrika bekend gestel is, maar die 2016 rekords dui daarop dat die eerste aanplantings in 1982 op die plaas Boplaas was. In Suid Afrika word slegs 69 hektaar Sangiovese verbou. Klone vir die produksie van hoë kwaliteit wyne is in 1991 ingevoer.

Produksie Streke

Die grootste Sangiovese wingerde in Suid Afrika word in Stellenbosch (26ha) en die Swartland (19ha) gekry.

Groei

Sangiovese word deur die terreintoestande beïnvloed en doen goed in ligte grond en warmer klimaatstoestande. Dit sukkel om ryp te word in hoë liggende gebiede (meer as 15000 voet).

Oorproduksie (te veel trosse per wingerdstok) kan druiwe met ’n hoë suurvlak en onryp tannien tot gevolg hê. Vroeë bot kan tot rypskade lei. Sangiovese is ’n hoë opbrengs kultivar en baat by ’n goeie snoei in die somer om die kwaliteit te verbeter en botritis te verminder. Dit is geneig om te kruip en ’n prieel sisteem help om die groei te beheer.

Oestyd

Sangiovese word laat ryp en word dus laat in die seisoen geoes.

Blare

Die blare is drie of vyflobbig en mediumgroot.

Druiwekorrels

Sangiovese korrels is mediumgroot, rond tot ovaal en die dun doppe het ’n waslaag op. Die waslaag beskerm die korrels teen verdamping en spoor penetrasie. Die tros groottes hang van die verskillende klone af.

Siektes en Plae

Sangiovese het ’n medium weerstand teen donsskimmel en is meer vatbaar vir oïdium (witroes) en botritis.

Gebruik

Sangiovese word in Suid Afrika gebruik om droë rooiwyn van te maak. Die variëteit se hoë suurvlak en ligte kleur maak dit gewild in versnitwyne, maar daar is deesdae ’n neiging om ’n enkel variëteitswyn te produseer. Cabernet Sauvignon vir struktuur en kleur en Merlot vir sagtheid is goeie pasmaats om ’n versnitwyn van Sangiovese mee te maak.

Smaak

Die beste Sangiovese wyne het ’n goeie suurvlak en tannien struktuur met ondertone van kersie, pruim en selfs leer of plaaswerf. Ander geure kan tabak, kaneel, moerbei en truffel insluit. ’n Jong Sangiovese wyn kan ’n vars kersie geur met ’n bitter endnoot hê.Translated by Ananda Schoeman