Richtersveld Grondbesit

‘n Verkleinde Stukkie Land

©David Fleminger
Aangevuur deur die diamantbedryf het die Suid-Afrikaanse regering uiteindelik die Richtersveld se eiendom kwessie begin oplos. Derhalwe is daar tussen 1925 en 1926 ’n kommissie om aanbevelings te maak aangestel. Hulle het besluit dat Melvill se voorgestelde toekenning steeds te groot was. ’n Verdere 143 000 morge (122 500 hektaar) is uitgehaal en die finale grootte van die Richtersveld grondeis het uit sowat 300 000 morge bestaan, minder as die helfte van hulle oorspronklike eis.
Aan die ander kant is hierdie afgesnyde stukkie grond goedgekeur vir die gebruik van Hottentotte en Basters onder die gesag van die Minister van Naturellesake. Daar is uiteindelik in 1930 ’n formele transportakte (of reservaat) uitgereik deur die Minister van Landsake - alhoewel die grond tegnies steeds deur die staat in ’n trust gehou is.
Dieselfde proses is by baie ander sendingstasies in die land gevolg. Die gevolglike entiteite het bekend gestaan as “Kleurlingreservate” of “Kleurlinggebiede”. In Namakwaland is vyf hiervan gestig naamlik Richtersveld, Steinkopf, Leliefontein, Komaggas en Concordia. Dit was een van die grootstes in die land, in totaal meer as 1.5 miljoen hektaar.

Kleurlingreservate

Die ou bestuursrade het as die politieke owerheid in hierdie kleurlingreservate aangebly. Hulle het besluit wie vir burgerskap kwalifiseer en dus wie geregtig was op behuising, weiveld, stemreg ens. Spesiale toegewings is ook verleen aan bywoners - letterlik plakkers wat as veewagters, sub-boere of diensknegte gewerk het. Buitestaanders het as “vreemdelinge” bekend gestaan en dit was gewoonlik sendelinge, handelaars, onderwysers en selfs wit boere. Hierdie twee groepe moes toestemming van die raad verkry vir tydelike behuising en / of weiveld in ruil vir ’n diens aan die gemeenskap.
Teen hierdie tyd het die verskillende rassegroepe wat in Namakwaland geleef het, in ’n aansienlike mate “saamgesmelt”. Alhoewel dit beteken het dat daar ’n vreedsame samehang tussen hierdie voormalige teenstanders was, is die konsep van ’n duidelike Nama- of Khoikhoi-identiteit ernstig ondermyn. Hierdie gevoel van ’n “nasie” was verder deur die apartheids-era se registrasie manie onderdruk wat sommer die hele klomp van hulle as “gekleurd” geklassifiseer het.

Groepsgebiedewet

©Jaques Marais
Gevolglik het die Basters ’n meer prominente rol in die politieke lewe van die Namakwalandse kleurlingreservate aangeneem. Hulle was grotendeels effens beter af as die oorblywende Khoikhoi-bevolking en hulle het ook die voordeel van ’n volgehoue opleiding in die hande van die sendelinge gehad.
In die Richtersveld is hierdie teenwoordigheid aansienlik deur die aankoms van die Bosluis Basters in 1949 versterk.
Die nuwe groep Basters moes vanaf die Pofadder-distrik in Boesmanland verhuis nadat die Groepsgebiedewet amptelik in 1950 uitgereik is. Die wetgewing het bepaal dat die verskillende rassegroepe geografies van mekaar geskei moes word.
Hierdie wet, ’n uitbreiding van die ou Grondwet van 1913, was die oorsaak van ’n reeks gedwonge verskuiwings wat die land in die 1950’s getraumatiseer het (insluitend Sophiatown, Distrik 6, South End, ens.).

Ongewenste Mense

Die apartheidsregering van D.F. Malan het dus die Bosluis Basters, wat uit sowat 68 gesinne bestaan het, geen ander keuse gelaat as om hulle besittings in ossewaens te pak en die meer as 300 km deur die dorslande op soek na ’n nuwe tuiste te trek nie. Hulle bestemming was die afgeleë vlaktes van die Richtersveld, wat as ’n gebied vir ongewenste mense beskou is.
Dit moes ’n moeilike reis gewees het, maar hulle is bygestaan deur die welwillende leierskap van hul pastoor, die eerwaarde Eksteen, wat sedert 1945 by die gemeenskap was. Op die ou end is ’n area aan die oewer van ’n klein spruitjie in die middel van nêrens gekies. Binnekort is ’n kerkie gebou en die nuwe gemeenskap is ter ere van hulle geestelike leier, Eksteenfontein genoem.
Ten slotte moet daarop gewys word dat die Groepsgebiedewet ’n tweesnydende swaard was. In die 1950’s is sowat nege wit boeregesinne, wat nou tegnies in ’n kleurlingreservaat gewoon het, uit die Richtersveld verwyder. Dit sluit die Avenant-familie wat by De Hoop in die hedendaagse Richtersveld Nasionale Park geboer het in. Die grafte van verskeie Avenant-kinders kan steeds, as jy weet waar om te kyk, gesien word. Die ander gesinne was die Van Rensburgs wat ’n plaas by Grasdrif gehad het, die Graaff-familie van Gelykwerf, die De Vries broers, wat op die top van die Van der Sterrberge en Koeskop geboer het, asook die Bosman-familie van Stinkfontein, nou Eksteenfontein.

Translated by Ananda Schoeman