Die Richtersveld se Landsbestuur
‘n Agteruitgaande Toestand
Die Kuboes-sendingstasie, diep in die Richtersveld, is deur die goeie Eerwaarde Hein van die Rynse Kerk oorsien. Die populasie was Nama Khoikhoi, Boesman en ’n paar Baster families. Die nedersetting is deur ’n Groot Raad, wat bestaan het uit gemeenskap verkose verteenwoordigers met die hoof sendeling as voorsitter, beheer.
‘n Kontemporêre verslag beweer dat die omtrent 380 inwoners van die Richtersveld slegs uit 47 families, meestal Hottentotte, bestaan. Paul Links, seun van die afgestorwe Kaptein Links, was die hoofman. Hulle het 50 perde, 560 beeste en 3200 skape en bokke besit. Die meeste is baie arm en daar is beweer dat hulle in ‘n agteruitgaande toestand is.
Die Groot Raad
Die Groot Raad het na die dag tot dag sake van die gemeenskap omgesien. Hierdie het die handhawing van wet en orde, dispuut resolusie en toestaan van burgerskap en weidings regte ingesluit. Hierdie stelsel was egter nie sonder kritiek nie en die bogenoemde Wet op Sendingstasie en Gemeenskap bepalings het die skeiding van burgerlike en godsdienstige owerhede tot stand gehad.
’n Nuwe bestuursraad bestaande uit wit buitestaanders het dus die sendingstasies begin beheer. Die presiese grense van die sendingstasie en inderdaad enige van die sendingstasies in Suid-Afrika was swak gedefinieer. Teen die 1890’s het die mense van die Richtersveld egter duidelikheid aangaande die saak aangevra omdat hulle grond deur verskeie koloniale magte opgeëis is. Hulle het ’n gebied van bykans 700 000 morge (600 000 hektaar) as hul tradisionele weiveld aangegee en ’n amptelike transportakte om hulle regte te waarborg aangevra. Mnr. S. Melvill, Assistent Landmeter-generaal, het egter ander planne gehad.
Melvill het in sy verslag aan die Parlement, met betrekking tot die land wat deur inwoners van sekere sendingstasies en ander plekke in Namakwaland beset is, gesê dat die grondeis veels te groot was. Hy het voorgestel dat die grondeis tot 450 000 morge (385 600 hektaar) verminder word. Dit het die grootste deel van die vrugbare grond langs die oewer van die Oranje asook die kusgebied, wat gebruik kon word vir boerdery of visvang, ingesluit. In die geval is niks met hierdie aanbevelings gedoen nie en geen transportakte is uitgereik nie aangesien die mense “te primitief is om na hulleself te kyk”.
Ten spyte van al die wettige sake, is daar in 1904 vyf plase aan die kusgebied aan wit boere verhuur. In 1919 het ’n boer genaamd Cloete selfs probeer om die hele Richtersveld as sy eie te verklaar. Dit het ’n ontstelde reaksie van eerw. Hein veroorsaak wat die volgende gesê het: “Richtersveld behoort aan die gemeenskap, geen individu kan dit eis nie.”. Met die uitbreek van diamantkoors in die 1920’s is die grond rondom die Oranjerivier se mond aan prospekteerders verhuur, alhoewel dit ook deel was van die oorspronklike Richtersveld grondeis.
Translated by
Ananda Schoeman