Produksie van Eendvleis in Suid-Afrika

©Ramon Velasquez

Boerdery met eende vir vleis is ‘n nismark in Suid-Afrika met ‘n paar kleinskaalse boere wat voorsien aan restaurante, sommige kleinhandelaars, boeremarkte, en die publiek.

Die meeste eendvleis wat in Suid-Afrika verbruik word is egter afkomstig vanaf Thailand, Hongarye, China en Brazilië. Hierdie ingevoerde vleis, hoewel goedkoper as Suid-Afrikaanse eendvleis, word nie beskou as van dieselfde gehalte as dié van die vrylopende eende verskaf deur Suid-Afrikaanse eendboere nie.

Daar word ook met eende geboer vir hul eiers, dons en vere, asook foie gras - die vet lewers van dwang-gevoerde eende en soms ganse. Die produksie van foie gras is onwettig in Suid-Afrika, maar dis nie onwettig om die produk in te voer nie.

Wêreld Eendvleis Produsente

Die meeste eendvleis (meer as 80%) word in Asië geproduseer, met China as die grootste produsent van eendvleis in die wêreld. China is egter slegs die derde grootste invoerder van eendvleis. Dit impliseer dat China ‘n verbruiker van sy eie eendvleis is.

Die wêreld se top-3 invoerders van eendvleis is Saudi-Arabië, Duitsland en Frankryk. Afrika produseer ongeveer 2% van die wêreld se eendvleis - Egipte en Madagaskar is die belangrikste produsente.

Eendsoorte

©CreativeCommons by Gnuckx

Die belangrikste eendsoorte vir vleisproduksie is Pekin, Muscovy, Aylesbury en Rouen.

Die Pekin-eend, wat van China af kom, is ‘n wit eend met ‘n helderoranje bek en ‘n regop houding. Hulle vat effens langer om volwasse te raak as die Aylesbury, maar is wêreldwyd die vernaamste ras vir vleisproduksie, Suid-Afrika ingesluit. Die Pekin-eende is meer gehard en meer ekonomies geskik om groot te maak as die Aylesbury. Die Pekin lê tot 160 eiers per jaar en kan gebruik word as ‘n meerdoelige ras - vir beide eier en vleisproduksie. (‘Peking duck’ is die naam van ‘n populêre eendvleis dis).

Die groot Aylesbury eend van Engeland het ‘n lang, breë lyf met ‘n ligpienk bek en wit vere. Oorspronklik genoem ‘White English’, word die Aylesbury geteel vir sy wit vleis en wit dons. Die vleis van die Aylesbury-eend is nie gekleurd nie weens sy heeltemal wit-geveerde liggaam. Die Aylesbury-eend is ‘n gewilde vleiseend wat tot 110 eiers per jaar kan lê.

Die Muscovy (ook genoem Barbary duck) is ‘n eend wat afkomstig is uit Suid-Amerika en het ’n baie gunstige voer-tot-vleis omset. Die Muscovy het wit en swart/grys vere met 'n helderrooi kleur om die oë en bek. Hierdie eende is goeie weiers, nie baie lawaaierig nie, siektebestand en pas goed aan in koue omstandighede. Die Muscovy lê tot 100 eiers per jaar.

Die pragtige Rouen-eend is afkomstig uit Frankryk en lyk soos die Mallard-eend met sy bont voorkoms, grys lyf en groenkleurige nek en rug. Die bekke van Rouen-eende is breed en verkleur oranje met swart kolle. Hierdie groot eende het ‘n vierkantige lyf en is uitstekende weiers, hoewel hulle stadig groei. Hulle kan tot 100 eiers per jaar lê.

Muil-eende word ook gebruik vir die produksie van vleis en foie gras. Die muil is ‘n kruising tussen ‘n Muscovy-eend en ander eendspesies wat ‘n steriele eend tot gevolg het. Die muil-eend produseer maer vleis en word verkies in die meer gesondheidsbewuste kringe.

Indian Runners en Khaki Campbells is goeie lê-eende en word dikwels vir eend-eier produksie gebruik.

Wat is Peking Duck?

©Lunghaiu Wandloa

‘Peking duck’ is die naam van ‘n sort eend wat vir vleisproduksie geteel word, terwyl 'Peking duck' die naam van ‘n kulinêre dis is.

Peking duck word berei deur lug in te pomp tussen die vel en die vleis voordat dit gaargemaak word. Die eend word dan gerooster en die krakerige vel en vleis word apart bedien. Die vleis word bedien met hoisin sous en saam met sprietuie in dun pannekoekies opgerol.

Translated by Elna Van Rhyn