Patat

© Louise Brodie

Die patat (Ipomoea batatas) is nie verwant aan die aartappel nie. Die patat behoort aan die “morning glory” of purperwinde/ een-dag-mooi familie en produseer eetbare wortels. Die patatplant speel ‘n belangrike rol in die kos-sisteme van Suider-Afrikaanse lande, Suid-Afrika ingesluit. Die patat is nie net ‘n belangrike voedselbron nie, maar speel ook ‘n rol in die verligting van armoede en dra by om wydverspreide vitamien A-tekorte te bekamp wat die immuunstelsel en oog-gesondheid bedreig.
Verskillende patat-kultivars kan in twee hoofsoorte verdeel word:
Die wat droër is wanneer gekook
Die wat sagter, sappiger is wanneer gekook
Die wortels kom voor in verkillende kleure. Die skil kan byvoorbeeld wit, geel, pienk, oranje pers of rooi-bruin wees. Die kleur van die vlees varieer van wit en geel tot lig- of donker-oranje. Oranje patats is ryk in beta-karoteen en word aangewend in voedingsprogramme ter bestryding van vitamien A tekorte. Patats is ryk bronne van energie en bevat ook vitamien C en minerale soos koper, yster en sink. Die blare verskaf bykomende proteïne, vitamiene en minerale.

Plaaslike naam: Wit patats

Sesotho: Potata e tshweu Sepedi: Potata e tshweu
Setswana: Potata e tshweu IsiNdebele: Ibhuthata elimhlophe
isiXhosa: Ibhatata emhlophe Tshivenda: Murambo mutshena
isiZulu: Ubhatata omhlope Swati: Bhatata Lomhlope
Xitsonga: Nhlata yotshoka

Plaaslike naam: Oranje patats

Sesotho: Potata e khubedu Sepedi: Potata e serolwana
Setswana: Potata e serolwana IsiNdebele: Ibhutata eli-oranji
isiXhosa: Ibhatata elimbomvu Tshivenda: Murambo wa tada
isiZulu: ubhatata opuzi Swati Bhatat Lobovu
Xitsonga: Nhlata yotsoka

Grond

Patats groei goed in sanderige leem, leem of kleierige leemgrond. Die plant het goeie dreinering nodig en is sensitief vir water wat nie dreineer nie, soutgehalte en alkaliniteit. Optimum pH (H2O) is 5.6 – 6.5. Klipperige of kleierige grond moet vermy word aangesien dit die vorming en ontwikkeling van goeie stoorwortels verhoed.

Klimaat

Patats is ‘n warm seisoen gewas omdat warm dae sowel as nagte noodsaaklik is vir optimum groei en ontwikkeling. Hulle is gevoelig vir lae temperature en ryp. Patats kan in alle Suid-Afrikaanse provinsies gekweek word mits bykomende besproeiing verskaf word. Die plant is matig droogtebestand nadat die stoorwortels gevorm is.

Kaltivars

Oranje patat: Imilo en W-199 (droog); Beauregard (sappig) Pers (varsmark): Beelsbok, Bosbok (sappig) Roomskil: Ndou, Monate (droog)

Gewasrotering

Rotering van gewasse is noodsaaklik om siektes te voorkom en opbou van peste te verhoed. Patats moenie meer dikwels as eenmaal elke drie jaar op dieselfde land geplant word nie. Geskikte grondherstellende gewasse soos ertjies, kool, boontjies en mielies behoort ingesluit te word in die rotasie-sisteem, veral waar kors-vorming ‘n problem is.

Voortplanting

Voortplanting geskied deur middel van steggies. Steggies van 20-30cm moet gebruik word. Die blare kan verwyder word voordat steggies geplant word, maar dis nie noodsaaklik nie. Steggies van die bokant van die rank groei weliger as steggies van die ander dele van die rank. Soms word steggies berei uit stoorwortels. Plant die stoorwortels sodat dit net bedek is met grond. Sodra die spruite 25 -30cm lank is, word hulle afgebreek en geplant.
Sny 20-30cm gesonde, insek-en siektevrye steggies met ‘n skoon snoeiskêr of skerp mes. Plant hule in jou voorbereide bedding deur die helfte van sy lengte met klam grond te bedek. Druk die omliggende grond ferm vas sodat die grond in aanraking is met die steggie en vinnige wortelvorming sal plaasvind. Maak die plantjies onmiddellik nat. Sny altyd steggies van gesonde plante. Moenie lopers van opslagpatats gebruik nie omdat hulle maklik peste en siektes kan dra.

Grond Voorbereiding

Maak die grond goed los deur dit te ploeg, of met ‘n vurk, graaf of skoffelpik om te werk. Maak die grond los tot op ‘n diepte van 250 – 300mm vir goeie belugting, wortelpenetrasie en dreinering. Verwyder klippe en breek harde lae om goeie wortelpenetrasie te verseker. Alle klonte moet gebreek word met ‘n hark of skoffelploeg totdat ‘n diep, fyn bedding gereed is. Dekgewasse (groen bemesting) kan geplant word en dan in die grond ingewerk word 3-4 maande voordat die patats geplant word.

Plant Metode 1

Op-erding: Die plante groei op grondriwwe of grondhope. Die riwwe is veral waardevol in areas waar vloede ‘n moontlikheid is en vergemaklik ook die oesproses. Steggies word 30cm uitmekaar op die grondrif gelê met die basale end in die grond geplant. Gate van geskikte grootte word gemaak, die ranke in die gate geplaas en die grond ferm rondom die plantjie vasgedruk. Steggies word vertikaal geplant met 3-4 botsels onder die grondoppervlakte.
Plat beddings: Sommige boere plant patats in plat beddings in sanderige grond met goeie resultate.

Spasiering

Patats kan beskou word as ‘n land-gewas, eerder as ‘n huistuin groente. Dis hoofsaaklik omdat dit ‘n rankgewas is en groot spasie benodig. Vir die huistuin met beperkte ruimte sal ‘n ry of twee genoeg wees. Plaas steggies 25-35cm uitmekaar (of die lengte van ‘n graaflem) binne die ry. Gewoonlik word hope of riwwe van 1m uitmekaar gebruik. Vir landery-produksie kan dit 90-15cm uitmekaar geplaas word en vir huistuin-produksie ongeveer 30-40cm uitmekaar.

Plantyd

Areas met ligte ryp: Vanaf die begin van November tot middel Desember. Areas met swaar ryp: Middel November to die begin van Desember. Rypvrye areas: Augustus tot Maart. Koeler areas: September tot Februarie. Winter reënval areas: Middel November tot begin Desember; November is optimal.

Besmeting

Grondmonsters behoort ‘n paar maande voor planttyd geneem te word sodat enige grond-vrugbaarheidsprobeme reggestel kan word. Verkillende bestingsprodukte kan gebruik word, afhangende van die grondsoort. Ammonium sulfaat is geneig om grond pH te verlaag terwyl LAN grond pH sal verhoog.
Algemene riglyne:
Patats is ‘n groot benutter van stikstof en kalium; daarom moet die verhouding N tot K altyd hoog gehou word. Ongeveer 1000kg/ha (100g/m2) of ‘n kunsmismengsel soos 2:3:4 (30) kan direk toegedien word en liggies in die grond ingewerk word voordat dit opge-erd word. Vir sanderige grond kan die hoeveelhede verhoog word tot 1200kg/ha. Dien ‘n bolaag van 120-150kg/ha LAN (12g per meter), of 200kh/ha (20g/m2) ammoniumsulfaat toe drie weke na aanplanting en wwek op 6 weke indien nodig. Sanderige grond sal ten minste twee bolae vereis. Gee goed water na die toediening van kunsmis. Kompos kan ‘n gedeelte van die kunsmis vervang. Dit moet egter goed-verouderde kompos wees (6 maande). Dit kan ook in die grond ingewerk word voor aanplanting. 15-20m3 (4 groot handevol/m2) kan versprei en ingewerk word voor aanplanting.

Irrigasie

Patats is matig droogtebestand. Dit beteken dat die plant steeds ‘n opbrengs sal lewer onder redelike droë toestande, hoewel ‘n gebrek aan water die opbrengs sal verklein. Water stres gedurende die eerste paar weke na aanplanting en die tydperk van stoorwortelvorming, (30-60 dae na aanplanting) sal lae opbrengste lewer. As algemene riglyn het patats tussen 450 en 600mm goedverspreide water nodig tydens die groeiseisoen.

Oes

Die stoorwortels is gewoonlik gereed om ge-oes te word 4 maande (warm areas) tot 5 maande (gematigde areas) nadat dit geplant is. Grond moet sag wees gedurende die oesperiode om te verhoed dat patats breek of dat die skille beskadig word. Weerhou water vir ongeveer 30 dae voordat die patats uitgehaal word o ranke te laat droogword. Sny ranke 4-7 dae voor die oes in warm gebiede sodat die ranke kan droogword.
Gebruik ‘n vurk om die stoorwortels op te lig en haal dan met die hand uit. Moenie ‘n skoffelpik of graaf gebruik nie. Maak seker dat geen stoorwortels beskadig word tydens die oesproses nie. Die stoorwortels kan onmiddellik uitgehaal word, of soos benodig. As die groeiseisoen te lank raak, sal die wortels te groot word.
Vryf die grond van die patats af, was en laat droog word in die son vir 1 tot 2 uur wanneer temperature matig is. Teen 32°C kan geoeste patats binne 30 minute deur die son verskroei word. Indien dit in die nag op die land gelaat word en die temeperatuur is laer as 5°C, kan vriesskade plaasvind. Berg in ‘n koel, droë plek (15°C).

Berging

Vars patats kan vir 3-6 weke geberg word nadat dit ge-oes is. Moenie beskadigde patats stoor nie. Patats kan egter ook in die grond gelaat word totdat jy dit nodig het. Dis beter om ‘n verlengde oes-seisoen te hê deur met twee-weeklikse intervalle te plant gedurende die planttyd. Onthou: Moenie gedurende hierdie tyd water gee nie. In koue areas sal lae temperature die stoorwortels in die grond beskadig. En as die temperature steeds gunstig is, sal die patats te groot word. Lae koste berging kan bewerkstellig word deur ‘n vlak gat in die grond. Plaas ‘n laag droë gras onderin die gat. Pak gesonde patats in ‘n lag van 40-50cm diep. Bedek met gras en dan droë grond. Bedek dit met ‘n grasdakkie. Sulke patats kan tot 4 maande lank so geberg word. Vermy hierdie metode in winterreënval gebiede.

Gebruike

Patats kan op vele maniere benut word:
Die stoorwortels kan rou, gekook, of gebak geëet word.
Die punte van blaarstingels en jong blare kan as ‘n groente geëet word.
Oes-reste kan as veevoeding gebruik word.
Die stoorwortels kan gebruik word vir brood, bak-produkte, skyfies, konfyt en sap.

Peste en Plae

Peste:
Patat kalanders
Volwasse kalanders vreet die blare. Die larwes boor in die stoorwortels en stamme in.
Beheer:
Gewas-rotasie kan help om die kalander-populasie te beheer
Om die stoorwortels op te erd verminder gewoonlik die besmetting
Verbrand alle besmette plante na die oes
Gebruik steggies van gesonde plante wat vry is van kalanders of hul larwes
Moenie steggies te na aan die vorige oes plant nie.
Verwyder all stoorwortels tydens oestyd en moenie enigsins gebruik maak van opslaanplante uit ‘n land waar patats die vorige seisoen geplant is nie.
Verhoed dat grond kraak.
Pas planttyd aan sodat stoorwortels nie teenwoordig is in die droë seisoen nie.
Oes betyds, want berging in die grond tydens die droë seisoen bevorder skade.
Patat pylstert mot larwes
Groot groen tot bruin larwes (ruspers) met ‘n klein “horingkie” op die dorsale gedeelte van die lyf. Hulle vreet snags die blare.
Beheer:
Verwydering van die ruspers met die hand is gewoonlik voldoende indien die besmetting nie te erg is nie.
Landert Plae:
Fusarium verwelksiekte
Veroorsaak deur Fusarium oxysporium. Hierdie siekte kan erge opbrengsverlies veroorsaak. ‘n Deursnit van die stingel van ‘n besmette plant toon ‘n rooi-bruinerige verkleuring van die vaatweefsel. Blare word geel, dan swart en sterf af. Besmette plante besmet ook die grond.
Beheer:
Plant bestande variëteite
Gebruik siektevrye plantmateriaal
Roteer gewasse met nie-gashere
Beperk stres soos water tekort en hoë temperature gedurende die groeiseisoen sover moontlik
Minder ernstige siektes
Alternaria Leaf Spot, Sagte Verrotting, Sclerotium verwelksiekte, Scurf en Voetverrotting.
Beheer: Soos vir Fussarium Verlepsiekte

Bergingsplae

Gedurende berging kan sagte verrotting, oppervlakte verrotting en droë verrotting plaasvind.
Beheer:
Moenie oes as dit nat is nie.
Moenie wortels beskadig gedurende oes nie. Was alle grond af en maak wortels droog.
Moenie beskadigde patats of patats wat tekens van beskadiging toon, berg nie.
Maak patats droog voor berging.

Virale Peste

Patat feathery mottle virus
Hierdie virus is die algemeenste een wat patats besmet. Dit kom soms voor in ‘n gemengde infeksie saam met ander virusse. Hoewel simptome selde op blare waargeneem word, is die obrengs baie klein en die stoorwortels gekraak. Simptome word oor die algemeen waargeneem as chlorotiese kolle op ouer blare. Erge geïnfekteerde plante is klein en hul blare ook kleiner.
Besmetting:
SPFMV word oorgedra deur plantluis spesies wat die virus opgedoen het binne een minuut op ‘n besmette plant en dit dan oordra op die volgende plant.
Beheer:
Gebruik virus-vrye plantmateriaal – bekom steggies van geregistreerde rankkwekers of van ARCVOPI
Beheer onkruid in en rondom landerye, veral die wilde Ipomoea spesies
Gebruik plantmateriaal met ‘n gesonde voorkoms.
Verwyder opslagmateriaal en onkruid van ‘n vorige plantseisoen.
Gebruik elke 2-3 jaar nuwe plantmateriaal.
Reinig alle snytoerusting met ‘n sterk Jik-oplossing.

Gewasbestuur

Die verwydering van onkruid is baie bealngrik gedurende die eerste maand na aanplanting. Dit kan met skoffelpikke of met die hand gedoen word. Wees versigtig om nie die ranke te beskadig nie. Verwydering van onkruid sal nie meer nodig wees wanneer die blare van die patatrank die grond bedek nie. Patats kan geplant word as ‘n mono-gewas of gemeng met sorghum, manna, mielies, kassawa, ens.

Translated by Elna Van Rhyn