Ek het opgekrul op my bed gelê, verlam van smart. Daar, in my donker kamer het ek toegelaat dat die donkerte binne my opstyg en my heeltemal oorweldig en ek het besluit dat ek my lewe sou beëindig. Die maklikste manier sou wees om op die treinspoor te gaan lê en wag vir die trein wat naby my huis in Khayelitsha verbygeloop het. Uiteindelik sou ek rus hê.
Maar dit sou nie gebeur nie, want op daardie oomblik het my seun Anthony aan my deur geklop. En hy het my besluit oor selfdood vir altyd verander. Dit was die jaar 2001, en vir ‘n tyd lank was ek nie in staat tot enigiets anders as huil, huil en nog meer huil nie.
Ek was so siek van al die hartseer wat oor soveel jare opgebou het. Ek wou nie langer die lewe van Alicia Mdaka hê nie, ‘n lewe wat sy nooit vir haarself sou gekies het as sy ‘n keuse gehad het nie. Ek het alles gehaat en myself gehaat omdat ek daarin vasgevang was, maar ek kon geen ander uitweg sien nie.
Toe sluit ek my voordeur, trek die gordyne dig en skuil in die donkerte van my huis. Maar toe, deur die venster, kom Anthony se stem soos hy met die buurvrou, ‘n ou dame wie se naam ek nie nou dadelik kan onthou nie, praat. ‘Het jy my ma gesien?’ wou hy weet. ‘Nee,’ het die ou dame gentwoord. ‘Ek het die kleinkinders, Thuthukani en Juliette gesien toe hulle skool toe is, maar dit was baie vroeër.
Ek weet nie waar sy is nie.’ ‘Wel, ek het vir haar mooi nuwe potte en panne gebring,’ het hy gesê, sy stem lig en opgeruimd asof alles wel was met die wêreld. ‘Die voordeur is gesluit. Ek dink ek gaan die slot breek sodat ek die potte en panne binne kan sit. Ek sal maar later weer die deur moet regmaak.’ Wel, dit het my aan die gang gekry.
Ek het vinnig na die voordeur toe gegaan en dit oopgesluit. Ten minste kon ek hom die moeite spaar om die slot te breek en ook my deur in die proses red. ‘Nee, moenie iets breek nie, ek laat jou inkom,’ het ek geroep en die deur oopgemaak. Hy het my geswelde gesig een kyk gegee en gevra, ‘Ma, wat op aarde gaan aan? Hoekom huil Ma?’ Wel, ek moes eerlik wees.
Deur al die swaarkry van my familie het Anthony sy bes gedoen om te help. Toe hy by my gebly het, het hy in die oggend ontbyt gemaak vir die kleinkinders en hy sou af en toe ‘n bietjie kontant huis toe bring as hy ‘n werk gehad het. Hy het ‘n goeie hart en ek vertrou hom. ‘Anthony, ek kan net nie voortgaan nie,’ het ek gesê.
‘Ek kan aan geen ander uitweg dink as om my dogters te volg nie. Ek wil by hulle wees. Ek wil weggaan na ‘n beter plek.’ ‘Ek weet nie hoe om dit op ‘n mooi manier vir jou te sê nie – ek het hier gelê en beplan hoe om alles te beëindig.’ Hy het my hand geneem, my na die bank toe gelei en toe ons sit het hy my reguit in die oë gekyk. Nie vir een oomblik het hy sy oë van my af geneem nie. ‘Weet Ma wat?’ het hy gesê. Ma was in drie motorongelukke, is beseer in al drie, maar God het Ma gered.
Ma het drie beroertes gehad en God het Ma gered. Weet Ma hoekom?’ ‘Want Hy het geweet dat Hy eendag my susters Olive en Prudence sou neem, en hulle kinders sou agterbly. Hy het vir Ma nodig gehad om na daardie kinders te kyk. Ma, hulle het Ma nodig. As Ma nou gaan, wat gaan van hulle word? Dit sal ‘n vreeslike, vreeslike ding wees.
Ma moet ophou om so te dink.’ Sy woorde was soos koue water wat oor my spoel en my wakker skok. In my smart het my kleinkinders heel verdwyn uit my gedagtes. Maar hulle was lewend – lewend soos ek begeer het om nie te wees nie – met al die hoop en vrese wat ek so goed onthou in myself van kleins af. ‘Kom ons bid,’ het ek gesê.
Ons het op ons knieë gegaan en ek het gehuil en gehuil en my hart uitgestort teenoor God. Aan die einde het Anthony ‘Amen’ gesê. Toe draai hy na my toe. ‘Ma, moet dit asseblief nooit weer doen nie. Moet dit nie weer dink nie.’ Ek het die voordeur oopgemaak en die gordyne oopgepluk om die lig in te laat. Dit was die einde van die trane daardie dag.
Dis nou baie jare sedert ek myself wou doodgemaak het en die lewe is steeds ontsettend swaar. Ek drink nog elke dag antidepressante en ook ander pille om te verhoed dat ek weer ‘n beroerte kry. Maar deesdae is dit nie net die pille wat my aan die gang hou nie.
Deesdae word ons oumas baie meer bewus van wat in ons lewens aangaan en ons help mekaar om sterk te wees – by my kerk en by die organisasie wat ons saam gevorm het, Grandmothers Against Poverty and Aids, wat ons GAPA noem. My GAPA susters gee my raad en vertroos my. As dit nie vir hulle was nie, sou ek nou al dood gewees het; daar is geen twyfel nie. Ons is ‘n groot familie van oumas wat mekaar ondersteun en mekaar se stres wegneem, en mekaar selfs leer om weer te lag.
Translated by Elna Van Rhyn