Origanum Verbouing

Voortplanting

©Louise Brodie
Origanum word van saad gekweek, maar steggies kan ook gebruik word, of die gevestigde plant kan opgedeel en uitgeplant word.

Plantmetode

Kommersiële groeiers plant gewoonlik saailinge wat in 'n kweekhuis gekweek is. Die sade word 8-10 mm diep in saadkissies geplant. Wanneer die sade ontkiem en sterk saailinge gegroei het, word dit uitgeplant in die land.

Spasiëring

Origanumplante moet 30 cm van mekaar in rye wat 50 cm wyd is, geplant word. Dit lewer ongeveer 60 000 plante per hektaar. Laat paadjies oop vir werktuie en trekkers sodat die land bestuur en geoes kan word.

Saaityd

Saai origanumsaad in Junie in saadkissies wat in 'n beskermde omgewing of 'n kweekhuis gehou word. Teen vroeg lente behoort die saailinge sterk genoeg te wees om in 'n akker uitgeplant te word.

Planttyd

Plant origanum saailinge in die vroeë lente. Dit beteken dat saailinge in Suid-Afrika laat Augustus tot vroeg September geplant moet word.

Groeiperiode

Origanum saailinge behoort na agt weke in die kweekhuis sterk genoeg te wees om uit te plant. Sommige produseerders oes na agt weke van uitplaning reeds die nuwe groeipunte vir vars gebruik. Daarna kan nog twee oeste plaasvind voor die winter. Die tweede oesjaar kan vyf tot ses snitte lewer. Origanumplante kan vir tot vyf jaar geoes word indien dit behoorlik bestuur word. Die plante begin egter hul sterkte verloor soos hul ouer raak, en daarom word dit aanbeveel dat hulle elke vier tot vyf jaar vervang word.

Bemesting

Voordat origanum geplant word, moet 'n grondmonster geneem en vir analise gestuur word. Dit sal die grondtipe en voedingstofvereistes vir die bedoelde gewas identifiseer.
Die volgende aanbeveling kan rofweg gebruik word indien 'n grondanalise nie gedoen word nie. Dien aanvanklik 450 kg 3:1:5 toe en werk dit in die boonste 20 cm van die grond in voor die origanum saailinge geplant word. Dit sal help dat die saailinge hulself goed vestig. Gedurende die eerste 12 maande is dit veral belangrik dat die plante aanhou groei, dus kan 'n verdere twee toedienings van 300 kg 3:1:5 langs die plantrye gemaak word, een in Desember en nog een in April. Verkieslik moet daar ook kunsmis toegedien word na elke oessnit.

Besproeiing

Hoewel die origanumplant gehard is, sal vogstres groei belemmer en blaarproduksie verlaag. Oorbesproeiing kan wortelsiektes en anaerobiese toestande veroorsaak, en die produksie en kwaliteit van essensiële olie beïnvloed.
Dit word aanbeveel dat vogmeters geïnstalleer word om voortdurend die grond te kontroleer. Besproeiingsvolumes sal verskil van land tot land, afhangende van die grondtipes en die weer. 'n Goeie gemiddelde is 25-30 mm per week gedurende die warm somermaande, wat verminder word gedurende die koeler tye of reënmaande van die jaar. Moenie die plante natmaak in die week voor dit geoes word nie, maar besproei onmiddellik na die oes om optimale vogvlakke van die grond te verseker en stres te minimaliseer.

Translated by Rentia Pretorius