Jugoboon
Die jugoboon, Vigna subterranean, is ’n peulgewas wat meestal op bestaansvlak in Suid-Afrika verbou word. Dit is naas die grondboontjie (Arachis hypogaea) en die dopboontjie (Vigna unguiculata) die derde belangrikste peulgewas in Afrika.
Die jugoboon is bekend as die jugo bean, bambara groundnut, earth pea of nyimo bean. Dit is verwant aan die dopboontjie en is vir menslike sowel as dierlike gebruik geskik. Wilde sowel as gekultiveerde variëteite bring verskillende kleure en groottes sade voort byvoorbeeld klein pers saadjies tot groot roomkleurige sade met swart spikkels. In Afrika is die groot wit en roomkleurige variëteite gewild en in Suidoos-Asië die swart en rooi variëteite.
Die jugoboon word hoofsaaklik vir die saadproduksie verbou. Die saad word as voedsel in tradisionele seremonies soos begrafnisse en as geskenke gebruik. Volwasse droë sade word gekook en as bykos geëet, gemaal vir meel of as ’n veevoer gebruik.
Daar is die afgelope paar jaar ’n hernude belangstelling in die verbouing van die jugoboon. Dit is droogtebestand en het selfs in swak grond, soos die Bambara gebied naby Timboektoe suid van die Sahara, ’n goeie opbrengs.
Nigerië is die grootste produsent van die jugoboon in die wêreld. In Suid-Afrika word dit in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal verbou.
Jugoboon Verbouing
In Suid-Afrika word die vinnig groeiende jugoboon alleen of saam met mielies, dopboontjies en spanspek geplant. Afhangende van die klimaat neem dit omtrent drie tot ses maande om volwasse te word. Die jugoboon-saad kan in rye of verspreid teen 25 – 160 kg per hektaar gesaai word. Dit kan in swak grond groei en is maklik om in goedgedreineerde grond te oes.
Die ideale temperatuur vir ontkieming is 30 - 35°C. Volson en ’n gemiddelde daaglikse temperatuur van omtrent 27°C is nodig. Sanderige leemgrond wat ryk is aan fosfor (P) en kalium (K) is die beste, alhoewel navorsing getoon het dat die byvoeging van hierdie minerale nie die opbrengs verhoog nie. Die jugoboon kan die grond se kwaliteit verhoog aangesien dit die atmosferiese stikstof deur middel van ’n bakterie van die Bradyrhizobium-familie herstel.
Die plant word omtrent 30 cm hoog en lyk soos ’n tros blare wat uit ’n groep stingels groei en ’n kroon vorm. Die boontjiepeul wat een of twee sade bevat ontwikkel ondergronds. Die sade is drie tot ses maande na ontkieming volwasse.
Gedurende oestyd word die plant met die hand uit die grond getrek wat die ondergrondse boontjiepeule ontbloot. Die bone word dan met die hand verwyder en vars of gedroog gebruik. ’n Klein area word met verloop van tyd geoes. ’n Gemiddelde opbrengs van 300 – 600 kg per hektaar kan verwag word.
Hoe om die Jugoboon te Eet
Die jugoboon is ’n belangrike proteïenbron met omtrent 18 – 19% proteïene sowel as 63% koolhidrate en 6.5% vet. Alhoewel dit minder proteïene as grondboontjies bevat is dit ryk aan aminosure soos isoleusien (isoleucine), leusien (leucine), lisien (lysine), metionien (methionine), fenielalanien (phenylalanine), treonien (threonine) en valien (valine).
Die bone kan vars as ’n versnapering geëet word en gekook, gerooster of gedroog word. Die grootste hoeveelheid word gedroog geëet. Die droë bone wat omtrent 1.5 cm groot is, het ’n baie harde dop. Die bone word fyngemaal om ’n meel wat vir brood en koek geskik is te verkry. Vir kluitjies word die meel met water, olie, sout, rissiepoeier en gekapte uie gemeng waarna dit gestoom word.
Melk en gefermenteerde produkte soortgelyk aan tempeh (’n gefermenteerde soyaproduk) kan van die bone gemaak word. Die jugoboon-melk word in baie Afrikalande in die plek van borsmelk gebruik.
Die jugoboon is ryk aan stikstof en fosfor en dus waardevol as veevoer. Die bone word vir varke en pluimvee gevoer en die blare word as kuilvoer gebruik. Droë jugoboon-blare is ’n 16% proteïenryke kuilvoer. In Nigerië word tilapia visse jugoboontjies en blare van die uitheemse reusewattel (Leucaena leucocephala) gevoer.
Translated by
Ananda Schoeman