Inheemse Gewasse en Voeding in Suid-Afrika

© Roger de la Harpe
South Africans are over-reliant on maize and should diversity their diets to include more indigenous fruit and vegetables.
Deur gereeld ‘n verskeidenheid vrugte en groente te eet, verseker ‘n mens ‘n gesonde inname van ‘n verskeidenheid voedingstowwe. Voedingstowwe is noodsaaklik vir die instandhouding van 'n gesonde liggaam en brein en help om kinders goed te laat groei en ontwikkel. Om gesond te bly, word dit aanbeveel dat daar gereeld van die volgende sewe voedselgroepe geëet word: styselagtige voedsels, vars groente en vrugte, droë bone (of –ertjies, -lensies of –soja), vleis (rooivleis, hoender, vis of eiers), suiwel (melk, maas, jogurt), vette en water.
Jou dieet kan verbeter as jy inheemse gewasse insluit sodat voedingstowwe uit die sewe voedselgroepe ingeneem word. Swartbekboontjies bevat baie proteïene en yster (en kan dien as ‘n plaasvervanger vir vleis) terwyl die rooi melkhoutvrugte baie vitamiene C bevat. 'n Belangrike punt is dat hierdie gewasse gekweek kan word in klein tuintjies of landjies, en ook wild in die natuur voorkom.
Op nasionale vlak produseer Suid-Afrika genoeg voedsel. Om die waarheid te sê, die land is ook ‘n netto uitvoerder van die meeste voedselgewasse. Ten spyte hiervan is 14 miljoen mense in Suid-Afrika “food insecure” wat beteken dat die land nie genoeg veilige en voedsame kos het nie. Die Suid-Afrikaanse voedselsisteem is gebaseer op slegs ‘n paar gewasse en daar word oordrewe staatgemaak op mielies. Daar is ook ‘n daling in huishoudelike voedselproduksie en daar bestaan ‘n negatiewe persepsie dat inheemse voedselgewasse net vir arm mense is.
Suid-Afrika het die derde grootste biodiversiteit in die wêreld. Natuurlike bates is geleë regoor die land en is dikwels oorvloedig in landelike gebiede. In landelike gebiede kan inheemse voedselgewasse ‘n integrale deel van die landelike leefwyse vorm. Gemeenskappe kan staatmaak op inheemse voedelgewasse om hul diëte aan te vul en hulle te help om te oorleef tydens moeilike tye.

‘Verskuilde Honger’ in Suid-Afrika

Hoewel daar nie veel bewyse is van grootskaalse hongersnood in Suid-Afrika nie, dui nasionale opnames op wydverspreide ‘verskuilde honger’ (gebrek aan voedingstowwe), toenemende volwasse obesiteit en vertraagde groei by kinders. Die Water Research Commission (WRC) en die Universiteit van Pretoria het van 2013-2015 ‘n studie gedoen in die armste dele in vier Suid-Afrikaanse provinsies om vas te stel hoe gewasverbouing bydra tot voedselsekuriteit.
Die studie het onthul dat die meeste huishoudings in staat was om mieliemeel te koop en indien die inkomste voldoende was, is hierdie mieliemeeldieet aangevul met ‘n sous van uie en tamatie of kool. Die gevolgtrekking van die studie was dat die dieet mank gegaan het aan die diversiteit wat noodsaaklik is om behoorlike produktiwiteit en kinderontwikkeling te verseker. Daar is ook ‘n verband gevind tussen die kweek van gewasse en die verbeterde kwaliteit van ‘n huishouding se dieet. Daarbenewens het die inkomste uit boerdery en besproeingsgewasproduksie die gebruik van vleis, eiers, vrugte en groente laat toeneem.
Die studie het ook aangedui watter gewasse voeding kan verbeter. Donkergroen blaargroente soos spinasie, beetblare, brandnetel, nastergal/inkbessie, amarant/hanekam, en knapsekêrels/wewenaarsgras word aanbeveel, sowel as groente soos kalbaspampoene, soetrissie, blaarslaai, pampoen, tamatie en jong murg-van-groente.
Vrugte vermeerder ook voedingstowwe in die dieet en die wat gekweek kan word in Suid-Afrika sluit in: mango, papaja, avokado, maroela en waatlemoen. Wortels soos amadumbe en patats word ook aanbeveel tesame met peulgewasse soos die Bambara grondboon, swartbekboontjies en grondbone. Gewasse wat nie baie water benodig nie sluit in amadumbe, patats, skorsies, Afrika blaargroentes, swartbekboontjies, brinjals, soetrissie, uie, waatlemoen, vye, lukwats en alle peulgroentes.

Ander aanbevelings van hierdie studie sluit in: Kweek voedingstofryke gewass soos beet. Gaar reënwater op of installeer besproeiing om gewasse nat te maak. Pyplyne en boorgate mag nodig wees in droë areas. Biofortifisering van voedingstofryke gewasse is nodig, veral in tweedoelige gewasse soos beet.

Translated by Elna Van Rhyn