Eendboerdery, veral vir vleis, is ‘n klein, groeiende bedryf in Suid-Afrika. Uitdagings wat mag ontwikkel is die bestuur van siektes (veral voëlgriep), markontwikkeling, en kompetisie met ingevoerde produkte.
Om te boer met eende vir dons en vere is ‘n heel ander boerdeysisteem as die produksie van vleis. Die inligting hieronder kyk kortliks na vleisproduksie en fokus ook op die belangrikheid van water vir eende, ongeag die produksiefokus van die plaas.
Eende vir vleis word slegs deur ‘n paar produsente in Suid-Afrika aangehou, meestal in ‘n kombinasie van binnenshuise en buitenshuise boerderysisteme.
Daar kan op groot skaal met eende in binnenshuise fasiliteite geboer word, soos in Europa en die VK waar daar van boere vereis word om kooigoed (‘n absorberende material om ekskresies te absorbeer) en toegang tot oop water te voorsien In die VSA word daar meestal binnenshuis met eende geboer op vloere wat uit dwarslatte bestaan waardeur ekskresies kan val sodat dit verwyder kan word.
In Suid-Afrika word vleiseende hoofsaaklik geproduseer in vrylopende boerderysisteme - ‘n kombinasie van binnenshuise grootwordareas en buitenshuise areas vir swem en wei. In die praktyk kom dit daarop neer dat ouer eende vry is om buite rond te loop, te swem en te wei, maar eendjies jonger as drie weke word binnenshuis gehou en gevoer totdat hulle sterk genoeg is om dit buite te waag.
Eende word in die nag binnenshuis gehou as ‘n voorsorgmaatreël teen koue weer, roofdiere en diefstal.
Produsente wat gesteld is op die welstand van hul diere behoort te let op kombinasies van die ideale waterbronne en higiëne. Dit is om bakteriële groei en nat toestande wat kan lei tot voetsiektes te beperk, maar tog genoegsame water te voorsien vir swem en versorging.
Eende is watervoëls wat water nodig het. Nie slegs vir drinkdoeleindes nie, maar om te swem en hulleself skoon te maak. Water is noodsaaklik vir die regulering van liggaamstemperatuur wanneer dit warm is, of as die eende gestres is. Daarby maak eende van water gebruik om hul vere in ‘n goeie toestand te hou en hul oë en neusgate skoon te hou deurdat hulle hul koppe onder die water indruk.
Eende drink groot volumes water terwyl hulle vreet, en navorsing het bewys dat hulle verkies om dit uit ‘n oop waterbron te doen. As gevolg van eende se groot waterinnname, neig hul uitskeidings om watering te wees. Dit het tot gevolg dat daar genoegsame absorberende material op die vloer van hul binnenshuise hokke moet wees. Hoewel saagsels effektief is om die vog te absorbeer, moet daar liewer nie gebruik gemaak word van groot houtspaanders nie, omdat dit die eende se gewebde voete mag seermaak. Die nat kooigoed kan as kompos aangewend word in huisgroentetuine of op die plaas.
Jong eendjies vir vleisboerdery kan aangekoop word van ‘n teler of hulle kan op die plaas geteel word. Teeleende word gewoonlik nie geslag vir die kleinhandelmark nie omdat hulle al te oud is om vleis van goeie kwaliteit te lewer.
Inenting van klein eendjies teen Newcastle-siekte word aanbeveel, selfs in omgewings met vrylopende en beperkte chemiese gebruik-sisteme. Volgens Dr Andrew van Wijk, ‘n pluimvee-veearts, is eende dikwels die draers van voëlgriep, hoewel hulle nie enige simptome toon nie.
Klein eendjies spandeer ongeveer drie weke in broeikamers waarvan die temperatuur gekontroleer word en hulle spesiale beginner-kos gevoer word. Vars water en skoon drinktoerusting is noodsaaklik; daarom is klokvormige waterkrippies die beste omdat hulle verhoed dat die eendjies in hulle drinkwater speel.
Die vlerke van jonger eende is nog nie heeltemal waterdig nie en as hulle toegelaat word om te diep in water in te loop, mag hul vlerke te nat en swaar word sodat die eendjies verdrink.
Na drie weke verander die dieet van jong eende na goeipille en hulle word toegelaat om buite rond te loop en te swem. Die eende se dieet mag ook aangevul word met groenvoer. Eende is gereed om geslag te word vanaf ongeveer 49-52 dae of wanneer hulle tussen 2.3 en 3.2 kg weeg, afhangende van die geslag en die tipe eend waarmee geboer word. Op hierdie stadium is die voeromsetratio om en by 2.9 kg voer vir ongeveer 1 kg lewende gewig.
Die vernaamste produksiekoste in eendboerdery sluit in die aankoop van kuikens, brandstof, voer en abattoirkostes vir slag.
Translated by Elna Van Rhyn