Duiwelsklou

© Olga Ernst
Duiwelsklou (ook genoem kloudoring) is 'n geofiet wat in die droë streke van die Kalahari oorleef deur water en voedingstowwe in ondergrondse knolle van tot 25 cm lank en 6 cm breed te stoor. Twee spesies, Harpagophytum procumbens en Harpagophytum zeyheri word in Namibië, Botswana en Suid-Afrika, sowel as in Angola, Zambië, Zimbabwe en Mosambiek (H. zeyheri) gevind. Die plant het rankende stingels en produseer 'n perspienk trompetvormige blom wat in die somer van November tot April net vir een dag blom. Die naam verwys na die haakagtige voorkoms van die vrugte ('dorings').

Die Suider-Afrikaanse Khoisan en Bantu-sprekende mense gebruik duiwelsklou vir spysverteringsprobleme, bloedsiektes en koors, asook om verstuitings en swelsels te behandel. Dit word as ‘n tee gedrink en die verpoeierde wortel kan geëet word of op die vel aangewend word. Vandag is die duiwelsklou-medisyne beskikbaar in die vorm van pille, kapsules, tee en as salf. Die swart weefsel van die ‘kloudoring’ word gebruik in die weef van mandjies en die gedroogde sade kan geskil en geëet word. Die jong vrugte kan gekook word as 'n okra-agtige groente.
Die eerste Westerling wat van duiwelsklou geweet het was 'n Duitser, G.H. Mehnert. Hy is in 1904 deur die San en Nama-mense in Namibië aan die plant bekendgestel en vandag voer Duitsland groot hoeveelhede van hierdie kruie in. Moderne toepassings van die plant sluit in 'n nie-steroïdale, anti-inflammatoriese middel vir pynverligting weens artritis. Dit is soortgelyk aan kortisoon, maar sonder die newe-effekte. Duiwelsklou egter nie aanbeveel vir diabete en mense met duodenale- en maagswere nie.

In 2002 is die eerste suksesvolle aanplantings in Suid-Afrika en Namibië gevestig en 250 000 saailinge het 'n oes van 40 ton in 2004 opgelewer. Namibië produseer tans die grootste gedeelte (90%) van alle uitvoervolumes. Duiwelsklou word gevind in Limpopo, Noord-Kaap (beperkte oes) en Noordwes-provinsies (kommersiële oes).

Duiwelsklou word gevind in graslande (waar dit goed gedreineerde sandgrond verkies) en in gebiede waar die natuurlike plantegroei skoongemaak is, soos langs paaie. Die plant word gepropageer deur sade of deur sekondêre knolle te plant. In die natuur word duiwelsklou na vier jaar geoes. Die oes behels die uitgrawe van die knolle (1 - 2 m diep), verwydering, sny en droog van die knolle. Duiwelsklou is 'n beskermde plant in Suid-Afrika, Botswana en Namibië. Dit beteken dat dit onwettig is om 'n plant te oes sonder toestemming (permit is nodig) van die verskillende departmente van natuurbewaring.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes. Dit mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie, en is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver