Die Oes van Varswatervis

© Louise Brodie
Die korrekte oesmetode en die instandhouding van ‘n koueketting vanaf die produksieaanleg tot by die verwerkingsfabriek is belangrik vir viskwaliteit. ‘Koueketting’ beteken die instandhouding van lae temperature vanaf die dam tot by die fabriek, regdeur tot by die winkel waar die vis verkoop word.

Hoe om Varswatervis te Oes

Maak seker dat die vis gesorteer is in eenvormige groottes voordat hulle geoes word en moenie visse voer vir 3 – 5 dae voordat hulle geoes word nie, soms selfs langer, as die temperatuur van die water laag is, adviseer Henk Stander, hoof tegniese bestuurder van Aquaculture: Department of Animal Sciences by die Universiteit van Stellenbosch. Deur visse nie te voer voordat hulle geoes word nie, word hulle maaginhoud geledig. Dit verhoed nie net enige ‘af’-smaak en mikrobiese besmetting nie, maar verseker ook beter algehele higiëne en kwaliteit tydens die slagproses.
Oes van forel word gewoonlik tydens die vroeë somermaande gedoen en behoort daarom vroeg in die oggend begin te word wanneer temperature nog laag is. Tilapia en baber word regdeur die jaar geoes.
Voorkom onnodige hantering van vis wat stres kan veroorsaak en ook kneusing en verlies aan skubbe kan veroorsaak wat weer die kwaliteit van die produk sal affekteer.

Om Visse op ‘n Aanvaarbare Manier Dood te Maak

Visse kan doodgemaak word deur ‘n ‘n vloeibare, wateroplosbare narkosemiddel vir vis, crustacea, en perlemoen by die water van die tenk te voeg. Daar is geen onttrekkingstydperk nie en dit kan ook gebruik word om vis te sedeer wanneer hulle vervoer moet word (1 -5 dele per miljoen), of vir ‘n ‘rustende oes’ (15 – 20 dpm). Dit beteken dat visse verdoof is en geen pyn voel nie.
Nadat die vis geoes is met dit teen laer as 5°C geberg word deur dit met lae ys of ysskaafsels te bedek. Die ys moet gereed wees voordat die vis geoes word; koop dit of maak jou eie.
Lewer die korrekte hoeveelhede vis af in skoon houers en op die tyd en datum soos met die verwerker ooreengekom, maar dis ook goeie praktyk om ‘n monster van 50 – 80 kg vis na die verwerker toe te stuur voor die hoof oes. Die toetssample sal beoordeel word op smaak, algemene voorkoms en in die geval van forel, vir die kleur van die vleis. Slegs nadat ‘n sample goedgekeur is behoort die res van die vis gelewer te word.
Verder behoort die visboer reëlings te tref vir verkoelings- en stoorgeriewe vir geoeste en gevekte vis as dit nie moontlik is om vars vis aan verwerkers te lewer nie.

Wanneer om Vis te Oes

Varswatervisspesies word op verskillende gewigte geoes, sê Henk Stander, hoof tegniese bestuurder van die Aquaculture Division van Stellenbosch Universiteit.
Forel is ‘n seisoenale vis en broei laat in die lente of vroeg in die somer. Die minimum gewig vir forel is 1 kg, maar die beste pryse per kg word behaal vir 1.2 – 1.3 kg lewende gewig. Vleislewering is ongeveer 80% (kop en binnegoed verwyder) tot 50% wanneer die vis gefileer is in porsies.
Tilapia en baber broei deur die jaar en behoort ten minste drie keer gedurende die groeiseisoen gegradeer te word volgens grootte. Kleiner vis word geskei van groter vis deur ‘n graderingsif en die groter vis word oorgeplaas na ‘n ander dam of tenk. As vis nie volgens grootte gegradeer word nie, sal groter visse eerste vreet en kleiner visse verhoed om grenoeg kos te kry. Dit sal lei daartoe dat die groeitempo en verskil in grootte tussen groter en kleiner visse te verskillend raak, verduidelik Henk.
Tilapia word geoes wanneer hulle ongeveer 250 – 300 g weeg en verkoop as heel vis. Wanneer tilapia verkoop word om gefileer te word (vis opgesny in porsies), behoort die ideale gewig tussen 0.8 kg – 1 kg te wees.
Skerptandbabers het ook ‘n deurlopende broeiseisoen en moet ook dwarsdeur hul lewe volgens grootte gegradeer word. Babers word slegs as porsies verkoop en die ideale gewig per vis hiervoor is 1 kg. Kommersiële oes van karp is beperk weens swak pryse en negatiewe verbruikerspersepsie in Suid-Afrika.

Translated by Elna Van Rhyn