Die Koop van Melkkoeie

© Chris Daly
Wanneer diere vir suiwelproduksie aangekoop moet word, word daar gewoonlik eers oor die tipe ras besluit. Daarna moet daar besluit word of daar lakterende diere of verse aangekoop gaan word.

Die Koop van Lakterende Melkkoeie

Nadat die beste suiwelras vir die nuwe melkplaas gekies is, moet melkkoeie gekoop word. Koeie wat in melk is moet eerste gekoop word omdat dit ‘n onmiddelike inkomste en kontantvloei verseker.

Melkkoeie is gewoonlik in een van twee produksiefases, óf in melk (lakterend) óf droog (nie in melk). Wanneer droë koeie aangekoop word, moet hulle dragtig wees met die volgende kalfdatum binne 60 dae van die huidige datum.

Verse word koeie wanneer hulle vir die eerste keer kalf, daarna word die ouderdom van koeie aangedui deur die laktasienommer wat bepaal word deur opeenvolgende kalfdatums, byvoorbeeld eerste laktasie na eerste kalwing en tweede laktasie na tweede kalwing. Gewoonlik word koeie beskryf as eerste- of tweede-kalfkoeie.

Koeie of verse moet verkieslik van ‘n goed gevestigde of ‘n kommersiële melkkudde gekoop word. Dikwels is gevestigde en kommersiële melkboere gretig om hul kennis van die bedryf met beginnerboere te deel. Dit mag dalk bruikbaar wees wanneer nuwe melkboere met produksie begin.

Die Koop van Melkbees Verse

Wanneer lakterende melkkoeie gekoop word, begin melkproduksie onmiddellik. Aan die anderkant, wanneer dragtige verse aangekoop word, kry nuwe melkboere die geleentheid om daaraan gewoond te raak om diere daagliks te voer en te bestuur voordat die werklike melkproduksiefase begin.

Die Koop van Melkkoeie by Veilings

Melkkoeie kan ook by veeveilings gekoop word. Deur vooraf op ‘n gereelde basis veeveilings by te woon, word ‘n goeie aanduiding gekry van die verkoopspryse en die kwaliteit van diere wat te koop aangebied word.

‘n Gesondheidssertifikaat deur ‘n veearts word gewoonlik by ‘n veiling beskikbaar gestel. Dit bevestig die gesondheid van die diere op die veiling. Indien daar enige twyfel oor die gesondheid van diere is, moet hulle nie gekoop word nie.

Wat is die Genetiese Meriete van ‘n Melkkoei?

Die genetiese meriete van ‘n melkkudde word bepaal deur die bulle wat op koeie en verse gebruik word. Dit beteken dat die genetiese kwaliteit van ‘n koei deur haar ouers bepaal word. Die melkproduksievermoë van ‘n koei word dus bepaal deur haar ouers (genetiese meriete) maar ook deur die voerprogram, behuisings- en bestuurstoestande.
Die produksierekords van koeie behoort beskikbaar te wees asook inligting oor die genetiese meriete van koeie. Beide kan help om die beste koeie vir aankoop te identifiseer. Vir beter keuse moet meer koeie uitgesoek word as die hoeveelheid wat aangekoop moet word.

Vind ook uit oor die stamboominligting en die produksierekords van die moeder van die koei asook die genetiese meriete (teelwaarde) van die bul (vader). Dit word nie aanbeveel om koeie te koop waarvan daar geen inligting beskikbaar is nie.

Die Nasionale Melkaantekeningskema

Dit sou sinvol wees om koeie by ‘n melkboer te koop wat aan die nasionale melkaantekeningskema deelneem. Die skema voorsien die genetiese en produksie-inligting van al die koeie, verse en bulle in ‘n melkkudde.

Die skema behels dat die melkproduksie van elke koei aangeteken word. Melkmonsters word geneem en by ‘n sentrale laboratorium ontleed vir die vet-, proteïene- en laktose-inhoud, somatiese seltelling (SST), en melkureumstikstof (MUN). Somatiese seltellings gee ‘n aanduiding van mastitis of uierinfeksies vir elke koei. Met hierdie inligting word die totale laktasieproduksie (oor 305-dae) vir elke koei beraam.
Die vrugbaarheid van koeie en bulle word beraam vanaf inseminasierekords terwyl kalwingsgemak deur kalfrekords verkry word. Tans (2018) is hierdie inligting net van ingevoerde bulsemen verkrygbaar, maar dit sal in die toekoms deur die melkaantekeningskema beskikbaar gestel word.

By Dr Carel Muller