Cabernet Sauvignon

© Glenneis Kriel

Beskrywing

Cabernet Sauvignon is ’n rooiwynkultivar wat ontwikkel het uit ’n spontane kruising tussen Cabernet franc en Sauvignon blanc. Dit word gebruik om van die wêreld se duurste wyne mee te maak.

Herkoms

Dit blyk dat die variëteit rondom die 1700s in Bordeaux ontwikkel het, waar dit veral gewild geraak het as gevolg van sy weerstand teen botrytis. Die reputasie van die variëteit het in die 18de Eeu gegroei, danksy die sukses van die Bordeaux-wynstreek se beroemde versnitte, waarin Cabernet Sauvignon tot vandag nog ’n belangrike bestanddeel is. Cabernet Sauvignon het gegaan van die variëteit wat die agste meeste geplant word in die wêreld in die 1990s, tot die gewildste en mees geplante variëteit in 2010.

Ander Name

In Bordeaux het rondom die 18de Eeu na die variëteit verwys as Petit Vidure. Dit staan ook bekend as Petit Cabernet.

Produksie in Suid-Afrika

Dit is onseker wanneer Cabernet Sauvignon na Suid-Afrika gebring is, maar dit was waarskynlik al oor die afgelope twee eeue in die land. Professor Abraham Izak Perold van die Universiteit Stellenbosch het dit in die 1920s geïdentifiseer as ’n variëteit met die vermoë om goeie gehalte wyne te produseer en hy het die produksie daarvan sterk aanbeveel. Die variëteit is aanvanklik alleen vir die produksie van tafelwyne gebruik, maar het later ook gewild geraak in verskeie versnitte.

Produksie Streke

Cabernet Sauvignon is rooiwynkultivar wat oor die grootste area in Suid-Afrika geplant is. Wingerde kom in al die wynproduserende streke van die land voor, maar Stellenbosch spog met die grootste area onder produksie, gevolg deur die Paarl, Swartland en Robertson-Vallei.

Groei

Dit is ’n uitsonderlike sterk groeier wat geneig is om harde hout te produseer. Gemiddelde produksie is tussen 6 t/ha en 12 t/ha.

Rypwording

Die druiwe word laat midseisoen ryp, so na die einde van Maart.

Korrels

Die variëteit het klein, sagte, ronde, swart korrels. Doppe is dik en taai. Die vleis is ferm, met ’n kenmerkende grassmaak.

Blare

Die blare is donkergroen, van ’n medium grootte, rond en vyflobbig. Die lobbe oorvleuel mekaar.

Peste en Siektes

Die variëteit is vatbaar vir oidium en donsskimmel, maar relatief bestand teen botrytis.

Gebruik

In Suid-Afrika word Cabernet Sauvignon al sedert die 1920s geassosieer met hoë gehalte enkel-variëteit wyne. Dit word ook in verskeie versnitte gebruik, soos met Cinsaut of Shiraz om die tanniene in hierdie wyne te versag, met Pinotage en ander variëteite om ’n Kaapse versnit te maak, of met Merlot, Cabernet franc of so, om ’n klassieke Bordeaux-styl versnit te maak.

Smaak

’n Verskeidenheid klone word in Suid-Afrika geproduseer, met smake wat varieer van bessies tot liquorice, sjokolade, grassmake en selfs groenrissies. Meer as een kloon word gewoonlik per hektaar geplant om die kompleksiteit van die wyne te verhoog.Translated by Glenneis Kriel