Cabernet Franc

© Glenneis Kriel

Beskrywing

Cabernet franc is ‘n swartdop wyndruif variëteit wat gebruik word vir die produksie van rooi tafelwyne. Dit is waarskynlik een die oudste wyndruifsoorte wat nog in produksie is.

Volgens DNS analise is dit moontlik ‘n direkte afstammeling, indien nie die oorspronklike ou Biturica variëteit nie, wat soos Cabernet franc, afkomstig is uit Baskiese Spanje.

Die variëteit is geïdentifiseer as die oorsprong van sommige van die belangrikste druifsoorte wat vandag verbou word. ‘n Kruising met Sauvignon blanc het Cabernet Sauvignon tot gevolg gehad en ‘n kruising met Magdelaine noire het Merlot gelewer.

Oorsprong

Cabernet franc het waarskynlik van Spanje na die suidweste van Frankryk gekom danksy pelgrims wat teruggekeer het van Saint Jacques de Compostela na Frankryk. Volgens oorlewering het Kardinaal de Richelieu steggies vanaf die suideweste van Frankryk geneem en al langs die oewers van die Loire rivier geplant.

Ander name

Die variëteit is ook bekend onder vele ander name, soos Achéria, Bidure, Boubet, Bouchet, Cabernet gris, Carmenet, Cabernet Franco en Véron.

Verbouing in Suid-Afrika

Dit is onbekend wanneer Cabernet franc die eerste keer na Suid-Afrika ingevoer is, maar professor Abraham Izak Perold het reeds die verbouing daarvan in die 1920’s aanbeveel, weens die druif se potensiaal om goeie kwaliteit wyne te produseer. Die variëteit is tot 1998 hoofsaaklik gebruik in Bordeaux-styl versnitte, waarna Norma Ratcliffe van die Warwick Estate naby Stellenbosch die eerste Suid-Afrikaner geword het om dit as ‘n enkelvariëteit wyn vry te stel.

Produksiestreke

Die area onder Cabernet franc-produksie is sedert 2009 redelik stabiel en verteenwoordig net minder as 1% van die totale area onder wyndruifproduksie in Suid-Afrika. Die variëteit word geplant in al die wynproduserende streke van die land, met die grootste aanplantings in Stellenbosch, gevolg deur die Paarl.

Groei

Cabernet franc is ‘n welige groeier, met ‘n gemiddelde opbrengs van 10t/ha tot 14t/ha.

Rypwording

Druiwe word ryp teen die laat mid-seisoen, vanaf middel-Maart.

Korrels

Die korrels is blou-swart gekleur, rond en klein, hoewel effens groter as die korrels van Cabernet Sauvignon. Die dop is dun en taai, terwyl die binnekant ferm met ‘n effense grassmaak is.

Blare

Die blare is mediumgroot, rond en vyflobbig, en donkergroen, hoewel ligter groen as dié van Cabernet Sauvignon.

Peste en plae

Die variëteit is sensitief vir witroes.

Gebruike

Cabernet franc is tradisioneel gebruik om parfuum- en speserygeure in te bring in Merlot en Cabernet Sauvignon in klassieke Bordeaux-styl versnitte. Dit is besig om in gewildheid toe te neem as ‘n enkelvariëteit wyn.

Smaak

Die wyne mag geure produseer wat wissel van grasagtig tot bessies en donker vrugte, met elemente van swart peper en selfs tabak.Translated by Elna Van Rhyn