Botterskorsie Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Botterskorsie plant met die saai van saad voort.

Hoe om te plant

Die saad word met die hand of meganiese planters gesaai. Die saad word direk in die voorbereide plantrye gesaai. Dit word 2.5 – 3 cm diep geplant. Twee sade moet 10 cm uitmekaar geplant word om genoeg plante te verseker. Indien al twee sade ontkiem kan die oortollige saailinge later uitgehaal en uitgeplant word. Die sterkste plante kan so behou word.

Spasiëring

Plante moet 30 – 40 cm uitmekaar in rye wat 120 cm van mekaar af is geplant word. Dit is omtrent 20 000 – 30 000 plante per hektaar.

Planttyd

Botterskorsie is ’n warmklimaat groente en word dus vanaf die vroeë lente tot die middel van die somer geplant. In Suid-Afrika begin planttyd in Augustus sodra die temperatuur na die winterkoue begin styg. In gebiede waar die risiko van ryp en lae temperature nog voorkom sal planttyd eers in September begin. Planttyd kan verleng word tot vroeg in Desember as die middel-somer temperature nie gereeld bo 35°C is nie.

Groeiperiode

Dit is gewoonlik tussen 12 en 15 weke na saaityd voordat die eerste botterskorsie gereed is om geoes te word.

Bemesting

Begin die area ten minste een maand voor planttyd voorberei. Indien die grond kompos benodig dien ongeveer 20 m³ tot 30 m³ mis of kompos per hektaar toe en ploeg dit in die boonste 300 mm grond in. Die grond word dan gelos en die plantrye voorberei. Sodra die saad ontkiem het en die jong saailinge gevestig is dien tussen 400 en 600 kg 2: 3: 4 (30) per hektaar langs die plantrye toe. Sodra die eerste botterskorsies gevorm het, omtrent vyf tot ses weke na planttyd, moet ’n finale toediening van stikstof in die vorm van 250 kilogram KAN (Kalksteen Ammonium Nitraat) gegee word om vrug ontwikkeling te bevorder.

Besproeiing

Botterskorsie het nogal ’n diep wortelstelsel met sommige wortels wat tot op ’n meter groei as die grond goed voorberei is. Dit maak dit vir die plante moontlik om tot ’n mate droogte te hanteer, maar dit is steeds belangrik om die grond klam te hou. Besproei tussen 25 mm en 35 mm per week gedurende die groeiperiode. Voldoende water in die wortelsone is noodsaaklik vir goeie blom- en vrug ontwikkeling.

Translated by Ananda Schoeman