Botterskorsie Gewasbestuur
Wisselbou
Wissel botterskorsie met ander gewasse soos grane, alliums (uie-familie) en blaargroentes af.
Opbrengs (ton per hektaar)
Konserwatief: 15 ton
Gemiddeld: 20 ton
Goed: 30+ ton
Oes
Oestyd is ongeveer 90 dae na saaityd of gewoonlik 30 dae nadat die plant begin dra. Botterskorsie word geoes sodra die skil begin hard word. Moet nie die botterskorsies eers oes as dit heeltemal ryp is nie, want dit verminder die opbrengs en blom. Behou ’n klein stukkie stam aan die botterskorsie as dit afgesny word aangesien dit die rakleeftyd verhoog. Probeer om nie die skil te beskadig nie, want dit bevorder siekte en bederf. Oestyd kan tot ’n maand lank duur. Sommige boere verleng blomtyd en dit kan dus twee oeste in ’n seisoen voortbring.
Berging
Botterskorsies kan tot drie maande in ’n koel deurlugte vertrek gestoor word. Daar moet egter genoeg ventilasie tussen die skorsies wees. Voor berging moet die botterskorsie heeltemal ryp wees. Dit word binne ongeveer 12 dae, solank dit warm is en daar geen reën is nie, op die lande ryp. Andersins kan dit binnenshuis in kamers met kunsmatige verwarming teen ’n temperatuur van ongeveer 26°C en ’n relatiewe humiditeit van 80% rypgemaak word. Botterskorsies kan langtermyn teen ’n temperatuur van 10 - 11°C en ’n relatiewe humiditeit van 70% gestoor word.
Plae
Algemene plae is die “vine borer” (’n tipe mot), Amerikaanse bolwurm (American bollworm), rooispinnekop (red spider), pampoenvlieg (pumpkin fly), liewenheersbesie (ladybird), plantluis (aphid) en aalwurm (nematode).
Siektes
Algemene siektes is Sclerotinia, Fusarium verwelk, antraknose (anthracnose), donsskimmel (downy mildew), poeieragtige skimmel (powdery mildew), blaarvlek (leaf spot) en die mosaïek-virus (mosaic virus).
Vir die gepaste voorkoming en bestryding van siektes en plae is dit raadsaam om die aanbevelings van u plaaslike landbou-voorligtingsbeampte of u chemiese maatskappy se adviseur te volg.
Translated by
Ananda Schoeman