Bitteraalwyn

© Chris Daly
Sedert antieke tye is aalwyne in Egiptiese hiërogliewe en in die San en Khoi-rotstekeninge aangeteken. Dit het ’n lang geskiedenis van medisinale gebruike in tradisionele kulture. Afrika het meer as 360 spesies van die genus Aloe Linnaeus waarvan die bitteraalwyn die meeste gebruik en kommersieel in Suid Afrika vervaardig word. Die bitteraalwyn is anders as die Aloe vera (Aloe Barbadensis). In ‘ferox’ word die bitter aloïen net onder die skil aangetref en kan dit maklik van die gelagtige binneste blaar geskei word. In ‘vera’ word die aloïen regdeur die blaar aangetref en word dit deur ’n chemiese proses onttrek. Die Aloe Ferox het ’n 28% hoër vlak van aloïene en 36% meer aminosure as Aloe vera, sy Amerikaanse neef.
Twee komponente van die plant word gebruik. Die sappige gel het beweerde wond-genesende eienskappe, terwyl die latex (bitter geel laag wat die aloïen bevat) gebruik kan word as ’n lakseermiddel, maar dit kan ook teen artritis help. Die gel stimuleer vel genesing na sonbrand of bestraling, verlig jeuk en insekbyte en word algemeen gebruik in skoonheidsmiddels vir die bevogtigende en strelende effekte. Die gel bevat ook antioksidante, vitamiene (A, C en B12) sowel as bradikinese, ’n ensiem wat inflammasie verminder wanneer dit op die vel toegedien word. Dit word ook gebruik as ’n natuurlike velkleur verligter aangesien dit melanien-inhiberende eienskappe het. ’n Olie word van die gemaalde aalwynblare gemaak daardeur by ’n basis olie soos druiwesaad-olie of soet amandelolie te voeg. Die poeier word in medisyne gebruik en die vars blare kan direk op die vel geplaas word om sonbrand te verlig.
Die bitteraalwyn saad groei goed, maar die maak van steggies is meer gewild. Saailinge word na twee jaar uitgeplant en die blare word na vyf jaar geoes. Die plant groei wild in ’n wye verskeidenheid habitatte, van die suidwes-Kaap tot die KwaZulu-Natalse Middelland, maar die bitteraalwyn word naby die Suid-Kaapse dorp Albertinia beide wild en van aangeplante aalwyne geoes. Ongeveer 50 ha Aloe vera (Aloe Barbadensis) word op ’n plaas in die Limpopo-provinsie geplant, terwyl die bitteraalwyn hoofsaaklik wild geoes word deur boere in die suidelike en oostelike Kaap.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Ananda Schoeman