Athrixia: Boesmanstee

© JMK
Athrixia word ook genoem ‘Boesmanstee’, Icholocholo, itshelo en umthsanelo (isiZulu). Die plant se botaniese naam is Athrixia phylicoides. Met sy sagte donkergroen blare en pers madeliefagtige blomme is Boesmanstee 'n gewilde tuinplant en is inheems aan Suidelike- en Sentraal-Afrika.
Tradisionele gebruike sluit in 'n tee vir die verligting van ‘n seer keel (Sotho en Xhosa-volke), terwyl die Venda-volk ‘n konkoksie van die wortels drink om parasiete te verwyder. Die stingels kan gestroop word van die blare en stewige besems kan daarvan gemaak word. Boesmanstee word ook gebruik vir die reiniging en suiwering van die bloed, sowel as vir die behandeling van hoofpyn en as 'n gorrel vir keelinfeksies en stemverlies. In sommige dele van Suider-Afrika word dit geglo dat dit 'n wellusprikkel (‘aphrodisiac’) is. Dit is ook gebruik om hartprobleme, diabetes, diarree en geslagsiektes te behandel. Daar is min inligting beskikbaar oor die antibakteriese en antifungale verbindings teenwoordig in Boesmanstee, hoewel die tradisionele gebruike daarvan dui op moontlike antimikrobiese doeltreffendheid.
Suid-Afrikaanse navorsing dui op 'n relatiewe lae opbrengs van 'n essensiële olie met 'n smaakprofiel van vanielje, karamel en heuning. Hierdie aromas is egter nie genoeg vir die gebruik van Boesmanstee in die parfuumbedryf nie, maar kan toegepas word as 'n moontlike geurmiddel in kos en drank. Die blare het kommersiële waarde as 'n kafeïenvrye kruietee, ryk aan antioksidante.
Boesmanstee word meestal wild-geoes, maar sommige klein aanplantings in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo in Suid-Afrika is gestig om die kommersiële lewensvatbaarheid van Boesmanstee essensiële olie te toets. Die struik groei wild in die oostelike dele van Suid-Afrika en word aangetref in rotsagtige areas, grasvelde en woude. Die beste manier om Boesmanstee te kweek is deur steggies te sny en te plant. Die plant is gehard en sal in volson floreer.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver