Aspersie Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Aspersies plant voort met die saai van saad.

Hoe om te plant

Aspersies kan direk in die land gesaai word, maar dit is raadsaam om dit in saadkassies in ’n kwekery te kweek en die sterkste saailinge tien maande later uit te plant. Maak ’n wye v-vormige voor van omtrent 200 mm diep en plant die saailinge of jong krone daar in. Bedek die krone of saailinge met 50 mm grond. Sodra die saailinge gevestig is en die aspersiekrone gevorm het moet daar seker gemaak word dat dit met ten minste 150 mm grond bedek is.

Spasiëring

Die aspersies moet 20 cm – 30 cm uitmekaar in rye wat sowat 150 cm – 200 cm van mekaar af is geplant word. Dit is ongeveer 20 000 tot 30 000 plante per hektaar.

Saaityd

Die saaityd is van laat somer tot vroeë herfs en die saailinge kan tien maande later uitgeplant word.

Planttyd

Die planttyd is vroeg lente tot vroeë somer. In Suid-Afrika is dit dus van Augustus tot einde November.

Groeiperiode

Die aspersieplant kan tot 15 jaar oud word. Die groeiperiode, wanneer die aspersiepunte gevorm en goes word, is vanaf vroeë lente (Oktober) tot vroeg herfs (Maart).

Bemesting

Voor aanplanting moet ’n behoorlike grondanalise gedoen word om die voedingswaarde van die grond te bepaal. Indien die grond te suur is, moet kalk ten minste een maand voor planttyd in die grond ingeploeg word.
Net voor planttyd moet hoendermis of ten minste 1000 kg NPK-mengsel 2: 3: 2 in die boonste 400 mm grond ingewerk word. Sodra die plante gevestig is en die aspersiepunte uitkom moet 800 kg 2: 3: 4 toegedien word. Na die eerste aspersies geoes is kan stikstof in die vorm van 150 kg KAN per hektaar toegedien word. ’n Finale na-oes bemesting van 150 kg KAN per hektaar moet ses weke na die oestyd toegedien word.

Besproeiing

Totdat die wortelstelsel goed gevestig is, moet die aspersies 25 mm - 30 mm water per week kry. Daarna kan die plante elke 14 dae gedurende die oestyd besproei word. As dit baie reën kan hierdie besproeiings verminder word en in uiterste droogte of lae humiditeit kan dit vermeerder word. Die grond se voginhoud moet egter voortdurend gemonitor word en ’n neutron vogmeter of selfs ’n graaf kan gebruik word.

Translated by Ananda Schoeman