Akwaponika in Suid-Afrika

© Henk Stander

Akwaponika, die kombinasie van visboerdery en die kweek van gewasse soos kruie en groente, mag dalk die oplossing bied vir voedseltekorte en inkomste geleenthede vir nuwe boere in Suid-Afrika.
In akwaponika-stelsels word plante gekweek net soos by hidroponiese stelsels, met hul wortels in kontak met voedingsryke afvalwater. Hierdie afvalwater kom van tenke waarin varswater visse uitgroei en word, nadat voedingstowwe deur die plantwortels opgeneem en gefiltreer is, weer na die vistenks teruggevoer.

Akwaponika Tegnieke

©Marinda Louw
Algemene akwaponiese tegnieke sluit die volgende in:

Diep-water vlot akwaponika
Met hierdie stelsel word die plante in drywende polistireen vlotte in ‘n relatief diep (30 - 40 cm) waterbad geplant.
Die voordele van hierdie stelsel is dat die water temperatuur en pH baie konstant bly, maar die nadeel is dat 'n ekstra biologiese filter nodig is vir die afbreek van die ammoniak.

Hersirkulerende akwaponika groeibeddings
In Engels word hierdie stelsel die ‘growing power model’ of ‘closed loop aquaponics’ genoem. Die akwoponika-stelsel - bekend as geslote-lus akwaponika - gebruik vaste mediums soos gruis of klei kraletjies. Plante word geplant in die vaste medium binne 'n houer wat oorstroom word met water vanaf die akwakultuur tenke. Die tegniek werk goed vir rankerige plantsoorte soos aarbeie, tamaties en grenadellas.

Wederkerige akwaponika
Vaste mediums soos gruis of klei kraletjies word gebruik in 'n houer wat om die beurt oorstroom en gedreineer word wanneer 'n sekere watervlak bereik word. Dreinering is belangrik om te verhoed dat die plante se wortels permanent onderwater is en dus om verrotting te voorkom. Dreining van die water geskied deur ‘n reeks afvoerpype - 'n klok-hewel uitlaat - wat die water in intervalle dreineer.
Hierdie tegniek van akwaponika is bekend as vloed-en-dreineer of eb-en-vloei akwaponika en word in Engels ‘flood and drain aquaponics’ genoem.
Hierdie is die ideale stelsel vir beginners aangesien dit makliker is om te bestuur en 'n groot verskeidenheid plante met hierdie stelsel geproduseer kan word. Dit werk ook uitstekend vir plante wat meer ondersteuning nodig het soos tamaties, komkommers of pampoen.

Ander akwaponika stelsels
Die vertikale stelsel gebruik torings gemaak van vertikale plastiekpype wat van bo deur middel van straaltjies water gevoed word. Plante word in openinge in hierdie pype geplant. Hierdie stelsel staan bekend as 'n vertikale sisteem.

Voedingstof film tegniek het kanale van horisontale PVC plastiek pype - soos ‘geute’ - met openinge vir die potte. Die water word dan horisontaal met die pype langs na die potte toe gevoer wat in die ‘geute’ hang.

Plastiek 200-liter dromme word in die helfte gesny en gevul met of gruis of water waarin polistireen vlotte dryf.

Akwaponika vir Nuwe Boere

Die aanwendingsmoontlikhede van akwaponika as tegnologie is legio. Dit kan op verskillende skale gedoen word en so verskillende behoeftes vervul - van familieproduksie deur nuwe boere tot op kommersiële skaal.

Akwaponika kan op 'n klein skaal, soos in die agterplaas gebruik word om vars produkte aan 'n huishouding te voorsien. Hiervoor kan karp, kurpers/tilapia of babers in 'n 500-liter grootte vistenk gebruik word. Die wederkerige tegniek of media-groei beddens word aanbeveel vir nuwe boere.

Akwaponika as tegnologie is uiters geskik vir nuwe boere vir verskeie redes:
Dit kan op 'n kleinskaal begin word en maklik later uitgebrei word.
Dit is nie baie arbeidsintensief nie.
Dit kan met relatief goedkoop materiaal opgerig word.
Vrugbare grond of 'n groot hoeveelheid water is nie voorvereistes nie.

Akwaponika op 'n medium skaal is geskik vir die voorsiening van vars produkte aan 'n gemeenskap soos 'n skool, ouetehuis, restaurant of hotel. Op kommersiële skaal kan dit beoefen word as 'n boerdery vertakking of as enkele bedryfstak.

Die verhouding tussen die aantal visse en die plante sal afhang van die kwaliteit van die visvoer, visspesie en die tipe plant variëteite wat geplant word. Hoër-vlak plante en ook vrugte-draende plante benodig meer opgeloste voedingstowwe.
Voor daar begin word met enige vorm van akwaponika, is tegniese kennis nodig en word dit daarom aanbeveel om praktiese opleiding te ondergaan.

Die Koste van Akwaponika Stelsels

Elke akwaponika-stelsel het sy eie voor en nadele. Die koste van akwaponika-stelsels hang af van die grootte van die stelsel, ontwerp en tipe materiaal wat gebruik word en kan wissel tussen R1 000 tot miljoene rande vir groot kommersiële stelsels.

Markte vir Akwaponika Produkte

©Marinda Louw
‘Die mark is alles’ mag dalk na 'n cliché klink, maar dit staan soos 'n paal bo water - dit is die dryfkrag van alle landboustelsels.
Leer ken jou mark deur vooraf voldoende marknavorsing te doen. Gaan gesels met potensiële kliënte en vind uit wat hulle spesifieke behoeftes is. Vind uit watter plant variëteite (of vissoorte) hul benodig, in watter hoeveelhede en watter tyd van die jaar. Indien moontlik stel bemarkingskontrakte op met kliënte.

Dit is ook raadsaam om 'n verskeidenheid van produkte aan te bied in plaas van net 'n enkele produklyn, soos byvoorbeeld verskeie blaarslaai tipes en kruie variëteite. Fokus op hoë-waarde plant variëteite soos vars kruie, bessies en rissies; hierdie produkte het groter winsgrense.

Die visspesies wat in akwaponika gebruik kan word sal afvang van watter visspesies toegelaat word in jou omgewing. Vind uit by jou provinsiale natuurbewaringsdepartement. Die visspesies wat mees algemeen gebruik word in akwaponika in Suid-Afrika sluit in kurper, baber, karp en ornamentele visse.

By Henk Stander