Aartappel

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Solanum tuberosum

Plant Beskrywing

Die plant het knolle wat ondergronds groei en die hoofbron van die eetbare deel is. Die knolle kan amper rond wees en sommige is ovaal in vorm.

Gebruike

Aartappels word gekook en is ’n bron van koolhidrate. Dit word ook gedistilleer vir die produksie van alkohol of gevries vir slaptjips. Aartappel stysel word ook as ’n verdikkingsmiddel in die kook industrie gebruik. Die aartappelmoere word geplant vir die volgende seisoen se oes.

Grondvereistes en Voorbereiding

Die beste is om aartappels in goed dreinerende, deurlugte en voghoudende grond met ’n hoë vrugbaarheid te plant. Sanderige leemgrond is die beste, maar grond met ’n hoë klei inhoud veroorsaak oes probleme. Dit verdra suurgrond met ’n pH van 4.3 – 6.1, maar ’n baie hoë pH bevorder bruinskurf.
Ploeg die grond tot 500 mm diep en maak gekompakteerde dele los.
Bewerk daarna die boonste 300 mm, maak seker dat die grond goed losgemaak is en werk organiese materiaal of afgesnyde dekgewasse in die grond in. Die grond moet tydens hierdie proses klam wees. Ploeg laastens die boonste 150 mm om seker te maak dat die grond los is vir die aanplant van die aartappelmoere.

Klimaat

Dit is ’n koel-klimaat gewas met die hoogste opbrengs en beste gehalte in gebiede met ’n gematigde klimaat en ’n lang gemiddelde daglengte gedurende die groeiseisoen. Siektes, plae en te veel of min water tydens die groeiseisoen het ’n groot invloed op die produksie. Dit gedy nie in temperature bo 28°C nie.

Kultivars

Die populêre variëteite is BP1, Up-to-date, Vanderplank, Buffelspoort, Astrid, Hoëvelder en Mnandi. Omdat dit so ’n belangrike gewas is, word baie nuwe kultivars ontwikkel.

Translated by Ananda Schoeman