Veilige Hantering van Spuitstowwe

© Louise Brodie
A tractor with spra tank and folding spraying arms.

Siektes en plae moet verhoed of beperk word en moet op ‘n verantwoordelike wyse aangepak word om nie die omgewing of mense te benadeel nie. Tydens die beheer van siektes en plae moet daar altyd op ’n volhoubare manier, veilige en kwaliteit voedselprodukte voorsien moet word.

Dus moet daar gefokus word op omgewings en sosiaal aanvaarbare boerderymetodes. Ten einde dit reg te kry moet daar voldoen word aan die volgende maatreëls rondom die siekte en plaagbeheer-spuitstowwe: Werkers wat betrokke is by plaagbeheer moet vooraf toepaslike opleiding ondergaan.

Met die hantering van chemikalieë, moet werkers altyd versigtig wees, die etiket lees, goeie persoonlike higiëne toepas, die toerusting onderhou en die regte beskermende klere en toerusting dra. Wanneer dit kom by persoonlike higiëne is die volgende baie belangrik: Moenie eet of drink of rook terwyl chemikalieë gemeng of toegedien word nie.

Moenie aan gesig of vel raak met besmette hande nie. Was hande voor eet of drink. Was oorpakke apart van gewone klere. Moenie die chemikalieë in damme of strome stort nie. Moenie met vuil gekontamineerde oorpak huis toe gaan nie. Siekte en plaagbeheermiddels moet altyd volgens voorskrifte opgeberg word en toegang tot die chemikalieë-stoor beperk word.

Verseker dat veiligheidskennisgewings in toepaslike landstale beskikbaar is en noodhulptoerusting en brandbestrydingstoerusting moet beskikbaar wees vir gebruik, indien kontaminasie plaasvind. Verbied die hergebruik van leë chemikalieë-houers deur gate in die houers te kap na gebruik en verhoed dat waterbronne besoedel word.

Verseker dat gesinne wat in die nabyheid woonagtig is, vooraf verwittig word van die spuitdatum. Maak deure en vensters toe, verwyder wasgoed vanaf die wasgoeddraad. Werkers behoort nie tydens middagete met ’n trekker en spuitpomp by die huis te parkeer nie en kinders moenie op die spuitpomp speel nie.

Wees versigtig indien die werker tydens middagete met ’n oorpak waarop chemikalieë kon versamel, ’n kind optel en dra. Chemikalieë kan die kind se vel binnedring. Spuitoperateurs moet jaarliks ’n mediese ondersoek ondergaan.

Translated by Marinda Louw