Wat is Heuning?

© Marco Beltrametti

Heuning is ‘n taai, soet stof wat deur bye (heuningbye, hommelbye en angellose bye) vervaardig word, sowel as deur sekere wespe en miere. Dit word ook deur heuningbye gebruik as ‘n voedingsbron vir die byebrood (‘n noodsaaklike voedsel vir die jong bye) en gedurende tye van voedselskaarste. Dit word al vir meer as 8 000 jaar deur die mens benut as ‘n bron van voedsel en as medisyne.

Hoe word Heuning Gemaak?

Heuning word gemaak van die nektar van blomme, suikeragtige uitskeidings van insekte of soet plantsappe. Verkennerbye vlieg om na nektar te gaan soek en keer terug na die korf om die ligging van die nektarbron te kommunikeer.
Nektar word dan ingesamel deur versamelaarbye wat dit in hul kroppe (heuningmae) stoor. Met hul terugkoms by die korf stort hulle die heuning uit hul kroppe in die kroppe van die prosesseerbye naby die ingang van die korf. Die nektar word geneem na die heuningkoek – gewoonlik in die boonste gedeelte van die korf, weg van die koninginby en die broeisel wat in die onderste gedeeltes van die korf bly.
In die heuningkoek word die nektar in die seskantige selle gestoor. “Elke keer wat ‘n nuwe hoeveelheid nektar bygevoeg word by die wat reeds in die sel is, voeg die bye ‘invertase’ by, ‘n ensiem wat die suiker (sukrose) afbreek in glukose (bloedsuiker) en fruktose (vrugtesuiker)”, verduidelik David Tarpy, assosiaat professor in entomologie by die North Carolina State University. Nektar bevat ongeveer 70% water terwyl heuning 17 – 18% water bevat. Dus moet vog uit die suikeragtige nektar verdamp om die taai konsistensie van heuning te verkry. Dit word gedoen deur die aanhoudende beweging van die bye se vlerke.
Sodra die water voldoende verdamp het en die regte konsistensie bereik het (die heuning is nou ‘ryp’), word die selle van die heuningkoek verseël deur ‘capping’. Hierdie ‘caps’ van byewas voorkom dat vloeistof binnedring. As dit ge -‘cap’ is, is die heuningkoek reg om geoes te word, of aan die jong bye gevoer te word. Stuifmeel word gemeng met heuning voordat die proteïenryke mengsel aan die jong bye gevoer word.

Heuningstatistieke

Om heuning te maak is harde werk. Volgens die American Bee Journal, sal ‘n heuningby 50 – 100 blomme besoek op ‘n insamelingsvlug en 0.8g heuning vervaardig in haar leeftyd. ‘n Studie in 2005 deur die Departement van Water en Bosbou in Suid-Afrika skat dat ‘n korf 15 kg heuning per jaar per korf kan produseer.

Oes van Heuning

©Yves Tennevin
Byeboere oes heuning deur die vol heuningkoekrame uit die korf te verwyder. Die was ‘caps’ wat die selle verseël word met ‘n lem afgeskraap en dan word die rame in ‘n uitswaaier geplaas. Die uitswaaier is gewoonlik ‘n sentrifugale mandjie (wat in die rondte draai) wat die rame teen ‘n hoë spoed swaai. Die swaai van die rame forseer die heuning uit die rame uit. Die delikate leë heuningkoeke word teruggesit in die korf waar die bye die oorblywende heuning verwyder en begin om elke sel skoon te maak en te herstel. Produsente van rou heuning ekstraheer heuning by kamertemperatuur en gebruik nie ‘n uitswaaimasjien nie.
Na ekstaksie uit die heuningkoek kan die heuning gefilter word om stukkies was te verwyder. Soms versnel verhitting die proses, maar dit sal heuning lewer wat nie geklassifiseer kan word as ‘rou heuning’ nie. Heuning word dan gebottel en geëtiketteer.

Bestanddele van Heuning

©Shree Krishna Dhital
Heuning word gemaak van nektar en bestaan uit suikers (38% fruktose, 31% glukose, 5% dekstrien en 1.5 – 3% sukrose), proteïene (0.5 – 2.3%), amper alle spoorelemente (soos yster, fosfor, magnesium, kalsium) sowel as organiese sure en tussen 18 – 20% water. Heuning bevat ook sekere ensieme – invertase, diastase, amilase, fosfatase – wat help met die metabolisering van heuning.
Heuning wat van verskillende plante gemaak word sal nie net verskillend smaak en ruik nie, maar sal ook verskil ten opsigte van bestanddele. Byvoorbeeld, die vitamiene in heuning (B1, B2, B3, B5, B6, H, K, C, E, PP, provitamiene A) word verhoog deur die hoeveelheid stuifmeel in die heuning te verhoog.
Variasies in smaak is duidelik wanneer heuning gemaak van byvoorbeeld sitrusbloeisels (lig en effens sitrusagtig) vergelyk word met heuning gemaak van bloekombloeisels (donker van kleur met ‘n sterker, amper medisinale smaak).

Translated by Elna Van Rhyn