Oorpeultjie: Kos en Plantbeskermer

© Ton Rulkens
Die wild-groeiende oorpeultjie is ‘n veelsydige inheemse groente. Dit dien nie net as voedsel vir mense nie, maar kan ook gebruik word as dierevoer en. Jy kan dit ook tussen ander groente plant om peste en insekskade te beperk.

Die Eet van Oorpeultjie

Regdeur Suid-Afrika word die sappige lote, blare (en soms die blomme) van die oorpeultjie (Cleome gynandra) geët; dit word gekook as bredie, sous of as bykos bedien. Die blare word soms as bitter beskryf en kan in melk gekook word, by ander geregte gevoeg word of saam met ander blaargroentes soos swartbekboontjieblare, nastergal of amarant/misbredie gebruik word. In Zambië word fyngemaakte gronboontjies (of grondboontjiebotter) bygevoeg vir geur.
Blare word ook geblansjeer, in bolletjies gerol en dan in die son drooggemaak voordat dit vir tot twee jaar gebêre word. Dit verlaag egter grootliks die voedingswaarde. As gedroogde blare gebruik word, word water bygevoeg om dit te rehidreer voordat dit gekook word. Kook van die blare kan tot 81% van die vitamien C inhoud en 95% van die vitamien A inhoud vernietig.
‘n Eetbare saadolie word verkry deur die oorpeultjiesade te pars. Die olie bevat ‘n vlugtige olie soortgelyk aan mosterdolie. Hierdie essensiële olie is ook aanwesig in die blare en is verantwoordelik vir die reuk en geur van die groente. Die oorblywende saadkoek kan as dierevoer gebruik word. Heel sade word aan hoenders en ander voëls gevoer. Beeste, perde en wild wei op wilde oorpeultjieplante en die blare kan ook aan lewendehawe gevoer word.
Inheemse kennis beweer dat die oorpeultjie medisinale waardes het – ‘n konkosie van die blare kan gebruik word om skeurbuik te behandel. In sommige kulture word dit beweer dat die eet van die blare van die plant energie vermeerder en sig verbeter en word dit as ‘n amper verpligte bestanddeel van die dieet van swanger vroue beskou.
‘n Afkooksel van die wortel word gebruik om koors te behandel, terwyl die sap van die wortel skerpioensteke kan verlig. Fyngedrukte blare word aangewend as ‘n pap op seer ledemate (weens rumatiek) en pitswere. Sap van die blare help glo vir oorpyn, terugkerende malaria en epileptiese aanvalle.

Oorpeultjie as Plantbeskermer

Daar is al waargeneem dat geen bosluise in die omgewing van die oorpeultjie gevind word nie. ‘n Etanolekstraksie van die plantmateriaal is toksies vir peste soos die diamondback mot (cabbage moth) en die painted bug (Bagrada hilaris).

‘n Ekstrak van oorpeultjieblare beheer dopluis- en blaaspootjiebevolkings, terwyl diamond moths- en blaaspootjieaanvalle verminder het omdat die plant tussen koolplante geplant is. Sny- of nierbone wat saam met oorpeultjies geplant is word minder geaffekteer deur blomblaaspootjies. Oorpeultjies word soms deur rooskwekers in Kenia geplant om die rooi spinnekopmyte in kweekhuise te verminder.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Elna Van Rhyn