Nouvelle

© Vititec

Naam

Nouvelle

Beskrywing

Nouvelle is ’n Suid-Afrikaanse wit wyndruif variëteit wat in 1964, deur opelug kruising in die wingerde, deur Professor Chris Orffer van die Stellenbosch Universiteit ontwikkel is. Hierdie variëteit kom van ’n kruising tussen Cape Riesling (Crouchen Blanc) en Ugni Blanc (Trebbiano). Selfs as Nouvelle in warm streke groei, word ’n witwyn met ’n kenmerkende grasagtige geur daarvan geproduseer.

Oorsprong

Suid Afrika

Ander Name

In die eksperimentele dae is daar na Nouvelle verwys as ‘Grass 26 varietal’.

Produksie in Suid Afrika

Nouvelle se geskiedenis strek terug na die KWV plant-verbetering span wat wingerdstokke in klein ‘blokke’ aangeplant het. Dit is gebruik toe hierdie kruising tussen 1958 en 1962 deur Professor Orffer geskep is. Volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryf-Inligting en -Stelsels (Sawis) is die eerste kommersiële Nouvelle wingerd in 1989 op ’n gedeelte van die Boschendal wynplaas naby Franschhoek gevestig.

Produksie Streke

Nouvelle word in al die hoof wynstreke van Suid Afrika geplant, met 136 ha in Robertson, 74 ha in Worcester, 66 ha in die Breedekloof en 54 ha in die Paarl. Hierdie kultivar het van 29 hektaar in 1998 tot 429 hektaar in 2016 toegeneem. Nouvelle word veral hoog aangeskryf deur Boland Cellars en het in 2004 die eerste Suid-Afrikaanse Jong Wyn Skou Trofeë vir kampioen wyn in die ‘Ander wyne’ klas gewen.

Groei

Nouvelle is ’n kultivar met ’n bo-gemiddelde groeikrag en opbrengs wat goed aanpas by medium en hoë potensiaal grond.

Oestyd

Nouvelle word vroeg ryp en kan vroeg mid-seisoen geoes word, gewoonlik die middel van Februarie.

Blare

Nouvelle se mediumgroot tot groot blare is drie tot vyflobbig, donkergroen en glad onder.

Druiwekorrels

Nouvelle korrels is klein tot mediumgroot, kort ovaal en lig van kleur. Die dop is baie taai, amper leeragtig, wat dit bestand maak teen botritis.

Siektes en Plae

Nouvelle is vatbaar vir oïdium (witroes) en donsskimmel, maar relatief windbestand. Die kultivar se los trosse dra by tot die weerstand teen botritis.

Gebruik

Nouvelle is gewild vir die gebruik in wit versnitwyne saam met Semillon, Sauvignon Blanc of Cape Riesling (Crouchen Blanc) wat die finale wyn ’n grasagtige soetrissie ondertoon gee.

Smaak

Nouvelle produseer wyn met ’n kenmerkende grasagtige, soetrissie karakter as dit vroeg geoes word. Indien dit gepluk word as dit heeltemal ryp is kry die wyne ’n kougom smaak.Translated by Ananda Schoeman