Die gesondheidstatus van vis word deur drie faktore beïnvloed: vis (gashere), patogeen (siekte-veroorsakende agent) en omgewing (water).
Hoewel die uitbreek van siektes nie algemeen is in varswatervisboerderysisteme (akwakultuur) nie, is siekteveroorsakende patogene altyd aanwesig in die wateromgewing. Boere moet ‘n goeie gesondheidstatus handhaaf vir hul vis deur toe te sien dat die waterkwaliteit (omgewing) goed is en deur gereeld te kontroleer vir die teenwoordigheid van dooie visse.
Die heel belangrikste aspek van gesondheidsbestuur is om gesonde vis aan te koop by geregistreerde verskaffers.
In varswatervisboerderysisteme is daar ‘n aantal redes waarom probleme met visgesondheid en siektes kan voorkom. Dit kan insluit aansteeklike siektes (veroorsaak deur parasiete en bakterieë), die effek van die omgewing (swak waterkwaliteit), swak bestuurspraktyke en enige aksie of gebeurtenis wat stres veroorsaak. Elke moontlike maatreël behoort getref te word om stres op die vis te beperk. Vis moet met die uiterste sorg vervoer en beweeg, hanteer en gradeer, sowel as gevoer en geoes word.
Die monitering van die gesondheid en welstand van vis is ‘n roetine-bestuurstaak. Visiuele inspeksie en monitering moet daagliks gedoen word wanneer vis gevoer word. ‘n Meer omvattende gesondheidsinspeksie moet maandeliks gedoen word en ‘n deeglike ondersoek moet onmiddelllik gedoen word sodra ‘n siekte-situasie waargeneem word.
Siekte-monitering sluit die volgende in:
Voedingsrespons: Eet die vis minder?
Gedrag: Enige abnormale gedrag moet aangeteken word.
Asemhaling: Sukkel die vis om suurstof te kry?
Swembeweging: Hang die vis net in die water?
Voorkoms: Let op na velkleur, tekstuur en enige opsigtelike merke en sere.
Wateromgewing: Toets vir watersigbaarheid, suurstof, temperatuur, pH en ammoniakvlakke.
Voorkoming is beter as genesing. Gereelde monitering sal help om enige vissiektes te identifiseer sodra hulle kop uitsteek terwyl instandhouding van goeie waterkwaliteit (optimum omgewing) noodsaaklik is vir goeie gesondheid. Dit maak ekonomiese sin om te voorkom dat siektes uitbreek, eerder as om ’n probleem aan te spreek. Behandeling is dikwels duur (beperkte reeks produkte vir vis beskikbaar). Tweedens is die behandeling van siektes dikwels tydrowend en kan die verkoop van vis vertraag weens die wetlike ontrekkingsperiodes (die onttrekkingperiode is die tydperk waartydens die medisyne uit die liggaam uitwerk totdat die vis veilig sal wees vir menslike gebruik).
Siek vis sal nie so goed groei nie en sal ‘n swak voeromset toon (‘n swak voeromset is wanneer baie kos nodig is vir vis om gewig aan te sit).
Let op na die volgende algemene tekens van swak gesondheid of siekte:
Verlies aan aprtyt.
Vis is lusteloos, swem stadiger en hang net in die water.
Abnormale gedrag soos skuur of spring (skuur is wanneer ‘n vis homself teen ‘n oppervlak skuur om ontslae te raak van parasiete).
Verandering in voorkoms – keur verbleik, vis word donkerder, oormaat slym.
Ooglopende merke op die liggaam rondom vinne, beskadiging, sere of vinverrotting.
Toename in vrektes (dooie visse word meer dikwels opgemerk).
Goeie waterkwaliteit in akwakultuur is nooodsaaklik vir goeie visgesondheid. Skoon gesonde water sal ‘n goeie immuunrespons by vis ondersteun in geval van die uitbreek van ‘n siekte.
Translated by Elna Van Rhyn