Marula Olie: Ryk Velhidraat

Die multifunksionele maroela-boom (Sclerocarya birrea) is deur Afrika versprei weens migrasies en is inheems aan Suider-Afrika (Suid-Afrika, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Namibië, Angola), Wes-Afrika (Niger, Gambië, Demokratiese Republiek van Kongo) sowel as Zambië, Soedan, Ethiopië, Kenia, Tanzanië (insluitend Zanzibar) en Uganda. Dit is bekendgestel aan Mauritius, Reunion en groei ook in Israel, Australië en Indië. Die maroela boom is sensitief vir ryp, groei in swak grond en verkies die warm droë streke van Suid-Afrika, veral in Mpumalanga en naby Phalaborwa in die Limpopo-provinsie. Die boom kan tot 3 ton pruimgrootte aromatiese vrugte lewer. Ryp vrugte het 'n liggeel vel, met wit, sappige vleis en 'n kenmerkende terpentyngeur. Die vrugte, neute, bas, blare en stam word gebruik.

Die maroela-boom kan maklik van saad (wat oornag in warm water geweek is) gekweek word, maar ook deur steggies of ente. Enting is wanneer 'n deel van die boonste plantgedeelte aan ‘n wortelstok verbind word sodat dit saam kan groei. Vrugte begin in Februarie en Maart van die bome afval, waar dit op die grond ryp word (Maart tot April). Vrugte word van die grond opgetel, met die hand gewas, geskil en verpulp. Maroela-vrugtepulp word gefermenteer en gebruik in drankies (sap, drank en bier) wat tot vier keer meer vitamien C as lemoensap kan bevat - 100 g maroela-vrugte bevat tot 194 mg Vitamien C. Die skille kan gebruik word om seep, atjar of gom te maak, die maroela blare word dierevoer, die bas word gebruik vir 'n bruin kleurstof en die hout is geskik vir kerfwerk.

Die neute (dikwels gerooster en geëet) bevat sade met sowat 65% olie en is 'n hoë-waarde kommoditeit. Brouers gooi die meeste van die neute weg of brand dit as brandstof omdat dit tydrowend is om die neute te kraak. Wetenskaplikes by ‘Everpix’ het 'n maklike proses en tegnologie ontwikkel om die maroela-neut te kraak om die maroela-olie te onttrek.
Marula-olie is ryk aan essensiële vetsure en die fyn molekulêre struktuur is die sleutel tot die doeltreffendheid daarvan as 'n velhidraat en beskermer. Dit is geskik vir die meeste velsoorte, veral teen veroudering en ondervoede vel. Maroela-olie is hoog in vitamiene C, E, ryk aan mono-onversadigde vetsure wat die olie stabiel en baie bestand teen oksidasie maak. Die medium-ryk olie het 'n uitstekende ‘glip faktor’ wat dit 'n ideale masseer olie maak.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver