Gedurende die laat koloniale tydperk in die 1960’s, het administrasies in verskeie Afrika-lande probeer om landelike akwakultuur aan te moedig, meestal van tilapiaspesies. Op daardie stadium was tilapiaboerdery in sy kinderskoene, so genetiese verbetering en enkel-geslag vingerlinge was nog onbekend. Die wydversprede mislukking van hierdie inisiatiewe en die lesse wat daaruit geleer is, het die grondslag gelê vir ‘n betekenisvolle wêreldwye toename in tilapiaboerdery in die laaste 25 jaar.
Die bekendstelling van Oreochromis mossambicus (Mosambiekse tilapia) aan Indonesië gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Japannese, het ‘n wydverspreide benutting van hierdie spesies aangemoedig. Ongelukkig het die ongeskiktheid van dié spesies gou duidelik geword. Redes vir die ongeskiktheid van Mosambiekse tilapia sluit in:
Stadige groei
Massiewe reproduksie
Swak liggaamsvorm en filetlewering
Swak siektebestandheid
In die 1980’s het O. niloticus (Nyl tilapia), die enigste werklike kommersiële spesies geword. Die GIFT program – ‘n selektiewe teelprogram vir ‘Genetically Improved Tilapia’ – is in die Filippyne ontwikkel en het die standaard gestel vir hoë-kwaliteit vingerlinge wat nou wêreldwyd gebruik word.
Tilapia kan in verskillende sisteme geteel word. Hokteling in groot mere word wyd toegepas in die Kariba-, Victoria-, en Voltamere, asook in die Nylrivier. Tilapia wat in hokke geteel word is egter 100% afhanklik van duur, kunsmatige kos. Waterkwaliteittoestande moet lei tot optimale groei in die kortste moontlike tydperk vir ekonomiese volhoubaarheid.
Die koste verbonde aan tilapiakos is ‘n belangrike inset en die meeste van hierdie tilapiahoktelingsondernemings is hoëvlak, vertikaal geïntegreerde korporatiewe beleggingsprojekte en nie geskik vir gemeenskaps- landelike akwakultuur nie.
RAS/HAS word dikwels aangeprys as die akwakultuurmetode van die toekoms. Die volume water wat gebruik word is beperk en die omgewingsbeheer in hierdie sisteme is hoog. Hierdie sisteme werk egter die beste in buitestedelike liggings na-aan markte, wat die ekonomiese haalbaarheid van RAS/HAS in landelike gebiede problematies maak. Die risiko van totale voorraadverlies is hoog weens die feit dat hierdie sisteme 24/7 afhanklik is van energie. Dit vereis dan duur outomatiese energie rugsteunstelsels, onderdele en vaardige tegniese bedryf; alles negatiewe faktore vir afgeleë landelike omgewings of gemeenskappe.
Landelike gemeenskappe is dikwels ver weg van betroubare bronne van elektrisiteit. Dus moet akwakultuursisteme geskik wees vir die energie en die vaardigheidsvlakke wat beskikbaar is. In Suidelike Afrika is hierdie gemeenskappe dikwels laag bo seespieël geleë of in areas waar daar aansienlike waterbronne is. Beide hierdie faktore is eienskappe wat gunstig is vir gronddamboerdery met vis, veral vir tilapiaboerdery.
Besproeiingsdamme, hoewel nie self geskik as akwakultuurfasiliteite nie, kan massas water voorsien aan damme voordat dit dan later gebruik word vir besproeiing. Die posisionering van tilapiaboerderyprojekte aan die onderkant van sulke damme of langs besproeiingskanale word aanbeveel.
Die vaardigheidsvereistes vir gronddamvisboerdery word vinnig geleer en vereis nie dieselfde vlak van sofistikasie en vaardighede wat benodig word vir RAS/HAS nie. Gronddamvisboerdery is ideaal vir landelike gemeenskappe waar sulke vaardighede dikwels nie op die oomblik bestaan nie.
Translated by Elna Van Rhyn