Kragvoervoeding vir Melkkoeie

© Rykie Visser Agrinet/Gibson Supplies
Om melkproduksie te verhoog word ‘n aanvullende kragvoermengsel gevoer, gewoonlik terwyl koeie gemelk word. Kragvoer word individueel aan koeie gevoer. Die hoeveelheid wat gevoer word hang af die ras, die hoeveelheid melk wat geproduseer word of die stadium van laktasie.

Hoe om Kragvoer te Voer

Kragvoer kan volgens ‘n vastepeil- of stapsgewyse manier gevoer word.
Met ‘n vaste-voedingspeil word ‘n dieselfde hoeveelheid kragvoer elke dag vanaf kalf tot met die einde van die laktasie gevoer. Byvoorbeeld vir Holsteinkoeie word sowat 9 kg/dag vir die duur van die laktasieperiode gevoer.

Met ‘n stapsgewyse-voedingspeil word kragvoer teen verskillende hoeveelhede gevoer dikwels volgens die verskillende laktasiestadiums. Byvoorbeeld 12 kg/dag vanaf kalf tot 100 dae in melk (DIM), daarna 9 kg/dag van 101-200 DIM en daarna 6 kg/dag vanaf 201 DIM tot opdroog.

Kragvoer vs Ruvoer

Dieselfde hoeveelheid kragvoer kan aan melkkoeie gevoer word ongeag die tipe ruvoer wat gevoer word. Dit is egter net belangrik dat die energie- en proteïenpeile van die kragvoermengsel by die ruvoer aangepas moet word. Byvoorbeeld sal die kragvoermengsel wat vir koeie op weiding gevoer word hoofsaaklik energie en minerale bevat terwyl die kragvoermengsel saam met hawerhooi heelwat meer proteïene sal moet bevat, sowat 19%.
Ten spyte daarvan dat ‘n hoë kwaliteit ruvoer en ‘n hoë kragvoerpeil gevoer word, is die energie-inname van koeie tydens vroeglaktasie dikwels steeds te laat. Dit het dan tot gevolg dat koeie hul eie liggaamsreserves (liggaamsvet) gebruik om melk te produseer. Die gevolg hiervan is dat die liggaamsmassa en kondisie van koeie afneem.

Gedurende mid-laktasie (101-200 DIM) sal die melkproduksiepeil en liggaamskondisie van koeie dieselfde bly.

In laatlaktasie sal die melkproduksie afneem met die gevolg dat die energiebalans van koeie positief sal wees. Dit word gewoonlik waargeneem as ‘n toename in die liggaamsmassa en kondisie van koeie.

Die algemene reël is dat vet koeie gewoonlik nie baie melk produseer nie. Dit sal die koste van melkproduksie verhoog.

Die Voer van Droë Koeie

Koeie word opgedroog sowat 50 - 60 dae voor die volgende kalfdatum. Die droë (of nie-lakterend) periode is belangrik vir die herstel van die melkproduserende selle in die uier.
Droë koeie word gewoonlik apart van ander koeie gevoer omdat hul voedingsbehoeftes laer is as dié van ander koeie.
Droë koeie moet nie te veel vet aansit nie omdat dit duur is en probleme soos ketosis na kalwing kan ontwikkel.

Hoeveel Kragvoer om te Voer

Kragvoer moet ook nie teen te hoë peile gevoer word nie omdat dit die voedingskoste verhoog terwyl dit die goedkoper ruvoere verplaas in die dieet. Melkproduksie neem ook af teen hoer kragvoerpeile.
Dit is bekend as die wet van ‘dalende meeropbrengs’. Byvoorbeeld met ‘n verhoging in die kragvoerpeil van 0 tot 4 kg/dag, verhoog die melkproduksie van koeie met 0.72 kg melk per kg kragvoer. Vanaf 4 tot 8 kg kragvoer/dag neem die melkproduksie toe met 0.35 kg melk per kg kragvoer toe.
Dit is daarom nie nodig om baie kragvoer aan koeie te voer nie omdat die winsgewendheid daarvan afneem.

By Dr Carel Muller