Voeding van Melkbeeste

Goeie Kwaliteit Voer, Goeie Kondisie

©Rykie Visser Agrinet/Gibson Supplies
Die hoeveelheid melk wat koeie produseer hang af van hul genetiese meriete en hul voerprogram. Lae kwaliteit voer moet nie aan koeie met ‘n hoë genetiese meriete gevoer word nie. Dit sal lei tot ‘n lae melkproduksie terwyl die liggaamskondisie van koeie sal afneem. Koeie sal daarom maer raak wat op sy beurt hul vrugbaarheid sal benadeel.
Ruvoere soos weiding, hooi of kuilvoer word aan koeie gevoer. Die voedingswaarde van ruvoere varieer van swak (strooi) tot baie goed (aangeplante weiding). Die melkproduksie van koeie sal laag wees op strooi terwyl dit hoër sal wees op aangeplante weiding.

Kuilvoer vs Ruvoer

©Chris Daly
Met ‘n weidingstelsel word ruvoere benut (geoes) deur koeie wanneer hulle wei. Die hoeveelheid weiding wat beskikbaar is (voor beweiding) bepaal die melkproduksie van koeie.
Hooi word gevoer met bale wat tussen 12 - 25 kg elk weeg. Kuilvoer word in ‘n bunker ingekuil. Dit moet daagliks verwyder word met ‘n laaigraaf of met die hand met hooi-vurke en word in losmaat gevoer. (Kuilvoer is gras of voergewasse wat in ‘n groen stadium geoes, gekerf en dan in ‘n bunker ingekuil word. Dit word gekompakteer om lug uit te forseer en daarna word dit lugdig verseël).

Kuilvoer bevat meer vog as hooi en daarom moet groter hoeveelhede daarvan gevoer word om dieselfde droë materiaalinname te verseker.

Die ruvoer-inname van koeie moet een maal per week bepaal word en die hoeveelheid aangeteken word. Weeg die hoeveelheid voer wat gevoer word en weeg die volgende dag die oorblywende voer weer om sodoende voerinname te bepaal.
In ‘n nulbeweidingstelsel word ruvoere aan koeie in voerkrippe gevoer.

Die ras en ouderdom van koeie bepaal die hoeveelheid ruvoer wat elke dag gevoer moet word. Holsteinkoeie moet byvoorbeeld meer voer kry as Jerseykoeie omdat hulle groter is terwyl ouer koeie ook meer voer benodig as eerste laktasie-koeie.
Die voerinname van Holsteins varieer van 18 - 24 kg per dag terwyl Jerseykoeie sowat 12 - 16 kg per dag benodig.
Let wel: Inligting is vir opvoedkundige doeleindes en mag nie beskou word as voedingkundige aanbevelings nie. Vir noukeurige voerformulerings en -advies, vra jou veearts, veevoerverskaffer of landboukundige raadgewer.

By Dr Carel Muller