Knoffel

©Louise Brodie
Wetenskaplike naam: Allium Sativum
Algemene naam: Knoffelhuis
Knoffel kom oorspronklik van Europa en sentraal Asië, maar vandag word dit regdeur die wêreld geproduseer.

Plant Beskrywing

Die plant het wortels wat vanuit die bol, wat uit 6 tot 12 knoffelhuisies bestaan, se basis versprei. Die stam is relatief kort, ongeveer 6 cm lank en steek net-net bo die grond uit.
Plat, grasagtige blare groei uit die stam tot sowat 15 cm – 20 cm bo die grond. Die blare is soortgelyk aan die ander Allium spesies soos die ui en prei, maar is baie platter waar die ander meer geronde blare het.

Gebruike

Knoffel word vir medisinale doeleindes as ’n antiinflammatoriese middel gebruik. Daar word ook geglo dat dit bloeddruk beheer en cholesterolvlakke verlaag. Dit word ook al vir meer as 5000 jaar as ’n geurmiddel in kos gebruik.

Grondvereistes en Voorbereiding

Knoffel gedy in sanderige leemgrond met ’n goeie dreinering en pH van 6 tot 7.
Die grond moet ryk aan organiese materiaal wees. Indien nodig moet dieremis en kompos voor planttyd in die grond ingewerk word. Die grond moet tot ’n diepte van 20 cm omgeploeg word. Hierdie voorbereiding beheer ook onkruid.

Klimaat

Knoffel kan in verskeie klimaatstoestande gekweek word. Die beste temperature tydens die groeiperiode is 12°C - 28°C. Dit kan kouer en warmer toestande weerstaan, maar dit vertraag die groei en bol ontwikkeling.
Dit is sensitief vir droogte aangesien die wortelstelsel baie vlak is. As ’n gereëlde hoë opbrengs verlang word is dit raadsaam om knoffel onder gekontroleerde besproeiing te plant en nie op reënval staat te maak nie.

Kultivars

Daar is twee tipes knoffel naamlik Sagtenek (Softneck) en Hardenek (Hardneck), elkeen met sy eie eienskappe en variëteite. Die gewildste tipe in Suid-Afrika is die sagtenek-knoffel aangesien dit meer gehard is en langer gebêre kan word.
Dit het meer knoffelhuisies en word beskerm deur die digte papieragtige skil. Die hardenek-knoffel variëteite het groter maar minder knoffelhuisies en baie dunner skille. Dit kan ook nie baie lank gestoor word nie.
Sagtenek kultivars is Silverlight en Artischoke. Hardenek kultivars is Rocambole, Porcelain en Purple Stripe.

Translated by Ananda Schoeman