Knob Thorn
Knoppiesdoring

© Roger de la Harpe

Naam

Knoppiesdoring

Latynse Naam

Acacia nigrescens

Beskrywing

Die knoppiesdoring word 5 tot 8 m hoog en is brandbestand. Die Afrikaanse en Engelse volksname verwys na die bas onder die dorings wat in kegelvormige knoppies uitgroei. Die doringknoppies word meestal in pare op die stamme en takke aangetref. Die blare is dubbelveervormig en die bome is bladwisselend en kaal gedurende die winter en vroeë lente. Die blaarvorm is tipies van hierdie spesies met meestal twee pare vere en meestal een paar blaartjies per veer en hulle is relatief groot met ‘n windskewe basis. Die blaarspil is omgebuig met klein uitsteekseltjies. Nuwe blaargroei is soms helderrrooi.

Blomme en vrugte

Die knoppiesdoring het ‘n onreëlmatige bloeiwyse vanaf Augustus tot November. Die gegeurde blommetjies word gedra in are van ongeveer 100mm lank. In die bot-stadium is die blommetjies rooi-bruin en raak room-wit wanneer hulle heeltemal oop is.
Die vrugte is langwerpige peule van ongeveer 100mm lank en 13-25mm breed. (Die spesifieke naam ‘nigrescens’ beteken ’om swart te word’, en het waarskynlik betrekking op die peule wat swart word sodra hulle ryp word.) Peule word geëet deur kameelperde en ander diere, terwyl olifante die takke, blare en lote eet. Koedoes eet die ook die blare en lote en kameelperde, ape en bobbejane eet die blomme.

Gebruike

Die knoppiesdoringbome word veral benut deur voëlsoorte wat in gate neste maak. Die hout is hard en termietbestand, en is gebruik om pale en stutte vir die mynbedryf te maak. Die spesies is droogtebestand, maar rypgevoelig. Dit maak ‘n uitstekende bonsai. Hoewel die hout baie hard en duursaam is, word dit nie dikwels vir meubels gebruik nie. Omdat dit buitengewoon strawwe impak kan verduur, is dit uiters geskik as parketvloermateriaal.

Waar hulle voorkom

Die spesies het ‘n groot verspreidingsgebied, vanaf die droër gebiede van Suider-Afrika so ver noord as Tanzanië, en dikwels in diep, sanderige grond en redelik dikwels in wyd gespasieerde plasings.

Veldaantekeninge

Die knopperige dorings van Acacia nigrescens bied vermoedelik beskerming teen olifante wat die bas verniel en dit lyk inderdaad asof die dorings van bome in areas waar olifante nie langer voorkom nie, verminder het.