Ten spyte van die geweldige potensiaal van karob as proteïen-ryke voedselgewas vir beide mens en dier, word karob nie in Suid-Afrika op ‘n kommersiële skaal gekweek nie. Hoewel daar in die Wes-Kaap boorde gevestig is, produseer geen boere karob op ‘n winsgewende vlak nie.
Daar word ook geen prosessering van karobpeule in Suid-Afrika gedoen nie. Alle karobpoeier word ingevoer. Karobpeule of karob-verwante produkte word nie ingesluit in die voerrantsoene van diere in Suid-Afrika nie, hoewel boere toelaat dat diere die suikerryke peule vreet. (Vir optimale vertering moet die peule en harde sade in hamermeule fyngemaal word).
Van die navorsing wat gedoen is deur Lukas Iipumbu saam met die departement Voedselwetenskappe van die Universiteit van Stellenbsch, het ingesluit die ontwikkeling van vyf nuwe voedselprodukte met karob as bestanddeel – brood, pap, ontbytgraan, mousse en ‘n melkgebaseerde drankie. Geeneen hiervan kon geproduseer en op kommersiële skaal vrygestel word nie omdat ‘n konstante voorraad karob, sowel as verwerkingsfasiliteite daarvan, benodig word.
Volgens Dr Pippa Karsten, ‘n plantwetenskaplike navorser by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, is kommersiële verbouing van karob slegs moontlik in winter reënvalgebiede. ‘Karobpeule word ryp in die somer en as hulle somerreën kry, smelt die peule weg en begin gis.’ Aanplant van karob- of johannesbroodbome word dus aanbeveel vir gebiede wat geen of baie min somereën kry.
Die karob het ‘n manlike en ‘n vroulike boom en slegs die vroulike boom dra peule, hoewel sommige variëteite beide manike en vroulike blomme dra. ‘As jy sade laat ontkiem, sal jy eers oor ongeveer drie jaar weet of die bome manlik of vroulik is. Sommige bome wat ons dopgehou het, het eers na vyf jaar begin blomme dra.,’ het Dr Karsten bygevoeg. Karob- of johannesbroodbome het min aandag nodig, is droogtebestand en het min peste.