Inwendige Wurms by Varke

©Glenneis Kriel
Sows should be washed a couple of days before farrowing.
Afhangende van die spesies het wurms nie net ’n negatiewe uitwerking op varke se gesondheid en produksie nie, maar ook die besoedeling van die karkasse by ’n slagpale. Aangesien besmetting begin met varke wat die wurms se eiers inkry, sal goeie higiëne en sanitasie praktyke help om die besmetting in toom te hou. Die grootste bedreiging vir ’n kleinskaalse varkboerdery is rondewurms en lintwurms.

Rondewurms

Rondewurm, Ascaris suum, is die mees patogene wurm by varke. Die wurms, wat so dik soos ’n potlood en tot 400 mm lank kan word, leef in die vark se maag waarvan hulle kos af kry. Die wurms produseer groot getalle eiers wat deur die ontlasting van besmette varke uitgeskei word. Die eiers is uiters gehard en kan jare lank oorleef.
Jong varkies is die vatbaarste vir infeksie en word gewoonlik besmet wanneer hulle eiers van vuil uiers insluk. As daar ’n risiko van besmetting bestaan, moet die sôe minstens twee weke voor baring ontwurm en gewas word.
Kliniese tekens hang van die graad van die besmetting af. Dit wissel van ’n droë hoes tot diarree en vertraagde groei in ernstiger gevalle. Die wurms kan ook longontsteking en blokkasie van die ingewande veroorsaak. ’n Diagnose kan bevestig word deur varke se ontlasting vir die teenwoordigheid van eiers te ondersoek of tydens ’n nadoodse ondersoek. Die wurms veroorsaak wit kolle in die lewer.
Goeie bestuurs- en higiëniese praktyke kan help om infeksies te voorkom en om die infestasie syfers laag te hou. As varke buite aangehou word, moet verskeie weidingsareas gebruik word om ’n opbou van eiers te voorkom. Verskeie anthelmintiese middels (anthelmintics), oftewel anti-parasitiese middels wat parasitiese wurms teenkamp, is geregistreer om besmettings te beheer. Vir die beste resultate moet dit volgens die instruksies gebruik word. Kruie soos Moringa het ook anthelmintiese eienskappe.

Lintwurms

©Glenneis Kriel
Pigs can ingest tapeworm eggs when feeding on human soil.
Varke tree as ’n intermediêre gasheer vir lintwurms tydens die blaaswurmstadium, Cysticercus cellulosae, op. Varke word besmet as hulle menslike ontlasting, wat as primêre gasheer dien, inneem.
Die wurms is tydens hulle fase in die mens as Taenia solium bekend. Mense word geaffekteer as hulle rou besmette varkvleis eet. Die toestand in varke word algemeen masels genoem omdat die wurms as klein wit knoppies van tot 15 mm in die maag, ingewande, hart, diafragma en skeletspiere gekry word.
Dit veroorsaak gewoonlik nie ongemak nie, maar kan in sommige gevalle pyn, wat dit moeilik maak vir die varke om te beweeg, tot gevolg hê. Infestasies word oor die algemeen eers ontdek nadat die vark geslag is en dit lei tot die besmetting van die karkas.
Beter sanitasie en higiëniese praktyke het daartoe gelei dat masels baie minder by varke voorkom. Daar is geen genesing daarvoor nie so die siekte moet voorkom word deur die varke nie te laat wei waar hulle per ongeluk menslike ontlasting kan inneem nie.
Daar moet ook verseker word dat mense wat in areas woon en werk waar varkboerderye is, toilette gebruik en hulle hande was. Hulle moet ook voordat hulle met die varke werk hulle hande was.

Ander wurms

Verskeie ander wurms soos die knoppieswurm (nodular worm), longwurm (lung worm), sweepwurm (whipworm) en bankrotwurm (bankrupt worm) word soms by varke aangetref. Simptome van besmetting kan wissel van diarree, bloedarmoede, gewigsverlies, dehidrasie en in ernstige gevalle die dood. ’n Diagnose word gewoonlik bevestig deur die ontleding van ’n stoelmonster of tydens nadoodse ondersoeke. Die beheer en behandeling van hierdie wurms is dieselfde as vir die rondewurm.

Translated by Ananda Schoeman