Inheemse Suid-Afrikaanse Plante as Natuurlike Skoonheidsmiddels

© Marinda Louw
Baie plante in Suid-Afrika - inheems of genaturaliseer – word al vir eeue lank deur inheemse mense en stamme as natuurlike velsorg of organiese skoonheidsmiddels gebruik. Moderne skoonheidsneigings begin erkenning gee aan die genesende eienskappe van plante as natuurlike vogmiddels, velopknappers en vir hul voordelige effekte op menslike gesondheid.

Die Afrika-Aartappel

Hipoksosied word onttrek uit die vlesige ondergrondse stingel van Hypoxis hemerocllidea en omgeskakel in rooperol wat ‘n kragtige antioksidant is wat teer op vrye radikale. Die Afrika-aartappel het ‘n hoë sterol en sterolien inhoud wat kragtige anti-inflammatoriese en immuunversterkingseienskappe mag bevat. Soortgelyk aan kortisoon, mag dit weefselskade herstel en spierpyne verlig. Dis ‘n kragtige antioksidant wat na bewering veroudering kan teenwerk.

Aloe Ferox

©Jacques Marais
Aloe ferox jel het meer aktiewe bestanddele (alantoin en aminosure) as sy Amerikaanse familielid, Aloe Vera. As gewilde bestanddeel van natuurlike skoonheidsmiddels, is die bevogtigende en strelende eienskappe effektief in die behandeling van sonbrand of bestraling en verlig jeuk. Afgesien daarvan dat dit die ensiem bradykinase bevat, het aloe ferox jel ook antioksidante en vitamiene A, C, en B12. Weens melanien-inhiberende samestellings, word dit gebruik as ‘n natuurlike middel om die vel ligter te maak.

Kremetart-olie

Die dik, liggies gegeurde olie van die kremetartsaad word gebruik as ‘n bevogtiger, masseerolie en as warm weekmiddel vir droë naels en hare. Dit het baie sterk antioksidanteienskappe as gevolg van β-sitosterol en mag DNS skade in selle verminder. Kremetart-olie het ‘n omega-6 inhoud van ongeveer 30% en bevat vitamiene D3, F, K en E (‘n antioksidant) sowel as vitamien A wat selmembrane hernu en rekmerke kan behandel deur die stimulasie van kollageenformasie. Vitamien F is ‘n onversadigde vetsuur wat selmembrane hernu en vernuwe.
Strelende en indringende kremetart-olie is nuttig in die behandeling van psoriase en ekseem deurdat dit die epidermis bevogtig en herstel.

Kalahari Tsamma-olie

©Marinda Louw
Die Kalahari tsamma is inheems aan die Kalahari-streek van Suid-Afrika en word al vir meer as 4000 jaar as ‘n natuurlike bevogtiger gebruik.
Die San-mense (Boesmans) gebruik die olie as ‘n bevogtiger en om hare te laat groei en meng die vrugtepulp met water om aan te smeer as ‘n sonskerm.
Weens hoë vlakke van linoleïensuur (soortgelyk aan evening primrose oil), is Kalahari tsamma-olie anti-inflammatories en daarom uitstekend om te gebruik op ‘n olierige, akneevel. Linoleïensuur verminder die hormonale afskeiding van sebum, herstel die elastisiteit van die vel en verminder plooie. Die olie van die saad van die kalahari tsamma is ook goed vir skilfers en ‘n jeukende kopvel.
As gevolg van die vetsuurinhoud, is die olie geskik vir gebruik in natuurlike sepe.

Mongongo/Manketti-olie

Olie van die Mongongosaad (Schinziophyton rautanenii), ook bekend as Manketti-olie, word (met groot moeite) onttrek uit die harde sade van die Mongongobome wat in die Kalahari-streek van Suidelike Afrika groei waar dit deur die plaaslike inwoners gebruik is as ‘n haarbalsem en as sonskerm.
Mongongo-olie vorm ‘n nie-olierige beskermende laag op die vel en hare wanneer die eleosteariensuur reageer op UV lig.
Die ligte geel mongongosaadolie word maklik geabsorbeer wat dit ideaal maak vir aromaterapie en vir gebruik in natuurlike skoonheidsprodukte. Dit bevat baie sink (Zn) en vitamien E (‘n antioksidant) wat bydra tot die beskermende en anti-inflammatoriese eienskappe en is veral nuttig in die behandeling van ekseem omdat dit vernuwing van weefsel en selle bevorder.

Helichrysum-olie

Helichrysum odoratissimum (die mees-gebruikte spesies en endemies aan Suid-Afrika) is ook bekend as everlasting, mphepho (Xhosa, Zoeloe), of kooigoed (Khoisan, Afrikaans).
Wanneer helichrysum olie as ‘n bestanddeel van natuurlike velsorgprodukte gebruik word, mag die anti-inflammatoriese, swamwerende en antispetiese eienskappe letsel weefsel, dermatitis en aknee behandel.
Dit het teen-verouderingseienskappe wat selvernuwing mag aanmoedig, en is ideaal vir gebruik in sonskerms en velrome.

Maroela-olie

©Genet
Maroela-olie is tradisioneel in die Limpopo-streek van Suid-Afrika gebruik as ‘n bevogtiger, ‘n sjampoe vir droë hare, ‘n basis vir seep en om babas mee te masseer.
Maroela-olie is ‘n uitstekende bron van natuurlike oleïensuur wat hoë antioksidanteienskappe het. Dit bevogtig en maak die vel glad en verminder rooiheid.
Ryk in essensiële vetsure, is die olie se fyn molekulêre struktuur die sleutel tot die effektiwiteit daarvan as ‘n natuurlike velbevogtiger vir ouer en ondervoede velle. Omdat dit baie vitamien C en E bevat, is die olie bestand teen oksidasie.
Maroela-olie het ‘n uitstekende ‘glip faktor’ en is daarom ‘n perfekte masseerolie.

Translated by Elna Van Rhyn