Voordat jy met enige varswatervisboerdery begin, is dit noodsaaklik om ‘n goeie besigheidsplan te hê, jou mark te identifiseer (vir die verkoop van die vis), goeie waterkwaliteit, geskikte toerusting, goeie, gesonde visvoorraad en die geskikte vaardighede vir varswatervisboerdery (akwakultuur) te hê.
Tilapia is die varswatervis waarmee daar die tweede meeste geboer word in die wêreld. Van oorsprong uit tropiese Afrika en die Nabye Ooste, is die tilapia ‘n omnivoor (vreet beide plant en dieremateriaal) wat ‘n wye verskeidenheid omgewingsfaktore kan weerstaan. Hulle kan kommersieel geteel word in ‘n wye verskeidenheid watersisteme (20 – 30°C), maar hulle vaar die beste in damme met oorvloedige natuurlike kos.
Tot 95% van tilapiaproduksie wêreldwyd maak gebruik van verbeterde bloedlyne van Oreochromis niloticus, die Nyltilapia. Hierdie spesies het die voorheen-gebruikte O. mossambicus (Mosambiekse tilapia) verbygegaan wat vroeg volwasse word, stadig goei, ‘n swak liggaamsvorm het en daarom min filette oplewer.
Siektebestande, met ‘n diep liggaam en vinnig-goeiende weergawes van die Nyltilapia is nou die kommersiële standaard, in beide rooi en silwer. (‘Diep liggaam’ beteken dat die liggaam ‘n diep profiel het, in teenstelling met een wat ‘n vlak liggaamsvorm, onnodige groot kop en geen vleis het nie, soos O. mossambicus).
Nyltilapia kan groei van ‘n 1 g vingerling tot 500 g massa (bemarkbare massa) in 8 – 9 maande, vergeleke met tot 14 maande vir ander tilapiaspesies.
Nyltilapia word wyd gekultiveer in Suid-Afrika, maar vereis ‘n spesiale permit van die Department of Environmental Affairrs (DEA) in Suid-Afrika, wat dit klassifiseer as ‘n uitheemse indringerspesies.
Tilapia is ‘n warmwaterspesies met optimale watertemperature in die orde van 24 - 32°C. Die groeitempo van tilapia verlangsaam sodra watertemperatuur laer as 20°C daal en daar is feitlik geen of baie min groei nie in temperature laer as 15°C. Tilapia is meer kwesbaar vir siektes teen lae watertemperature (kouer as 15°C) en hulle sal vrek teen 12°C of laer. Dit beperk die areas in Suid-Afrika waar daar buitenshuis kommersieel met hierdie spesies geboer kan word, hoewel kweekhuistonneltoestande groter moontlikhede skep.
Hoewel tilapia nie so sensitief is vir lae suurstofvlakke (laer as 4 ppm) en hoë ammoniakvlakke soos ander visspesies (bv. forel) nie, is groei nie suksesvol wanneer waterkwaliteit konstant teen lae vlakke bly nie. Dis ‘n fout om te glo dat tilapia aangehou kan word onder swak omgewingstoestande.
Hoewel warm watertemperature deur die jaar ideaal is, wys die hoë tilapiaproduksie van lande soos Egipte (waar meer as 750 000 ton jaarliks geproduseer word), dat areas in Suid-Afrika ook ideaal is vir groen waterpoelboerdery met tilapia. Egipte, met sy koel Mediterreense winters, het watertemperature so laag as 10°C.
Daar is baie gedeeltes in Suid-Afrika se noord-oostelike Laeveld (in beide Limpopo Provinsie en die Mpumalanga Provinsie se Incomatikorridor) sowel as KwaZulu–Natal se noordelike kusstreek, wat winter watertemperature van hoër as 15°C het, en hulle ideaal maak vir buitenshuise tilapiaboerdery.
Die meeste tilapiaboerdery in China, Indonesië, die Filippyne, Bangladesh, Israel en Egipte word gedoen in bemeste en gevoerde groen waterpoele.
‘Bemesting’ van groen waterpoele behels die byvoeging van óf diere, óf chemiese bemesting tot die water om die groei van natuurlike viskos te bevorder – organismes soos daphnia, cyclops en alge wat deur die vis gevreet word. Die water word groen weens die proses.
In ‘gevoerde’ waterpoele word kunsmatige korrelvoer gebruik. Die groen waterpoelsisteem verlaag voerkostes deur oorvloedige hoeveelhede natuurlike kos in die poele te bevorder. Hierdie damme moet taamlik groot wees om goeie waterkwaliteit in stand te hou, ‘n grootte van minstens 0.25ha (m.a.w. 50 m x 50 m).
Alle tilapiavingerlinge word selektief gekweek en is slegs manlik sodat ‘n vroeë oorbevolking in die damme vermy word. Die ou 1960’s sisteem van klein, helder dammetjies met vingerlinge van beide geslagte van onbekende herkoms is lank reeds gediskrediteer as waardelooos.
Hersirkulasieakwakultuursisteme (HAS) vir tilapiaboerdery is reeds op die proef gestel in stedelike en semi-stedelike gebiede. Dié sisteme is egter energie- en vaardigheidsintensief en het boonop die nadeel van noodsaaklike kunsmatige voeding. In Suid-Afrika is tilapia-kos baie duur in vergelyking met lande soos Zambië. Met ‘n voeromsettingsratio van ongeveer 1:1.5 in goeie sisteme, waar tilapiakos van R12/kg gebruik word, kan voerkostes R18/kg bereik in selfs die mees produktiewe hersirkulasieakwakultuursisteem.
Hierdie energie, vaardighede en onkostes plaas die ekonomiese volhoubaarheid van ‘n hersirkulasieakwakultuursisteem onder verdenking. Tesame met hoë energie- en arbeidskostes kan die produksie van tilapia in sulke sisteme die markprys daarvan met tye oorskry.
Hoewel die hersirkulasieakwakultuursisteme die voordeel het dat waterkwaliteit beheer word, moet aanvaar word dat die risiko’s van sisteemmislukking hoog is, met gevolglike voorraadverlies. Hierdie sisteme is 24/7 energieafhanklik, en vereis daarom ‘n betroubare outomatiese rugsteun-energieverskaffer, sowel as ‘n hoë vlak tegniese vaardigheid. Daarbenewens is daar nog nie bewyse dat dit ekonomies haalbaar is nie.
Translated by Elna Van Rhyn