Om met ‘n akwakultuuronderneming in Suid-Afrika te begin met die doel om varswatervis te produseer, het nuwe boere planne, vaardighede, ‘n geskikte perseel en die geskikte visboerderysisteem vir hul area nodig.
Drie aspekte is noodsaaklik voordat daar met so ‘n akwakutuuronderneming begin kan word. ‘n Nuwe visboer benodig:
‘n Besigheidsplan
‘n Konstruksie-ontwerp
‘n Bedryfsplan
Ongelukkig word bogenoemde beplanningsinligting dikwels verkry vanaf mense of bronne wat verouderde of onakkurate inligting verskaf. Keer op keer begaan organisasies dieselfde akwakultuurfoute wat al in die 1960’s begaan is en nuwe projekte misluk weereens.
Dwarsoor Afrika vind ons klein dammetjies met helderskoon, vlak water, hopeloos oorbevolk met bastervingerlinge van onbepaalde herkoms. Die voer van vis in hierdie sisteme is gewoonlik minimaal, bestuur bestaan amper nie en teen die tyd dat die projek misluk, is die raadgewende organisasie skoonveld.
Die ontwikkeling van landelike akwakultuur vereis ‘n sterk onderneming deur die regering en ander ondersteunende agentskappe om die vaardighede van die toepaslike privaatsektor te benut. Die privaatsektor kan help met die opstel van besigheidsplanne, plaasontwerpe en met die opleiding van nuwe visboere.
Lewensvatbare visboerdery bestaan en word gebruik in lande soos China, Thailand, Bangladesh, en is ook toenemend in landelike Suid- en Sentraal-Amerika. Hierdie suksesvolle visplase gebruik bemeste en gevoerde visdamme. Hierdie gronddamme het die voordele wat noodsaaklik is vir die sukses van landelike visboerdery: laer risiko’s, minder energie-afhanklik, nie soveel vaardigheid nie en hoë produktiwiteit, met ‘n opbrengs van tot 18 ton vis per hektaar. Hierdie visboerderysisteem het ‘n maklik kopieerbare baanrekord wat gevolg en gedupliseer kan word in Suid-Afrika. Die akwakultuurontwerpe is eenvoudig, maar slim en geensins primitief nie.
Streng aandag moet gegee word aan die ontwerp en bou van die gronddamme, beheer oor waterkwalitiet, bevoorrading en bemesting van water sodat natuurlike viskos toegelaat word om te groei. Inligting oor kommersiële damvisboerdery is ook geredelik beskikbaar.
Daar word voorgestel dat die bevordering van landelike akwakultuur toegespits moet word op die befondsing van privaatsektor demonstrasie- en opleidingsfasiliteite vir visboerdery. Hierdie fasiliteite moet nie vreeslike tegnologies-gevorderde, ingewikkelde sisteme wees nie.
Opleidingsfasiliteite vir nuwe visboere moet nie geleë wees in areas ver van die landelike gemeenskappe af nie, of in klimate wat ver verwyderd is van die warm klimaat wat vereis word nie. Dit moet eerder daar wees waar die aanvraag is, binne die laagliggende landelike gemeenskappe. Die demonstrasiefasiliteite moet identies wees aan dié wat die landelike gemeenskappe sal moet bou om sukses te behaal in hul eie projekte.
Besigheidsplanne wat op sulke suksesvolle ondernemings gebaseer is sal makliker kapitaal bekom as planne wat fondse probeer bekom gebaseer op ingewikkelde en dikwels ontoepaslike hersirkulasie-akwakultuursisteemtegnologie, dikwels nog in die navorsings-en onwikkelingstadium, met geen huidige sigbare baanrekord van sukses nie.
Die suksesvolle visboerderystories is daarbuite, dikwels in Asië, maar toenemend ook in Afrika, veral Zambië. Ons behoort hulle na te volg.
Translated by Elna Van Rhyn