Hoe om met Babers te Boer

©Marinda Louw

Baberboerdery in Suid-Afrika het enorme potensiaal, maar nuwelingboere moet ‘n goeie bemarkingsplan hê voordat hulle begin.

Boerderysisteme vir Babers

Weens hulle vermoë om lug direk as suurstofbron te benut, tesame met hul verdraagsaamheid van swak waterkwaliteit wat sensitiewe spesies sou stres, kan babers teen hoë digthede aangehou word. Hierdie spesies is tropies van aard en groei optimaal teen ‘n watertemperatuuur van 28°C. Onder tropiese toestande word daar met hulle geboer in konkryttenks en die water word daagliks vervang met “nuwe” water om waterkwaliteit in stand te hou.

In gematigde klimate soos in Europa en Suid-Afrika, word daar binnenshuis in kweekhuistonnels of in pakhuise met babers geboer sodat die temperatuur konstant gehou kan word deur middel van elektriese hittepompe of warmwatertoestelle. Water word konstant hersirkuleer tussen die tenks en kragtige biologiese fiters verwyder en skakel die vis se metaboliese afval om in onskadelike vorme. Hierdie goed-ontwerpte hersirkulerings akwakultuursisteme (RAS) is in staat om 1 ton vis per 30 m² per maand te lewer!

Die gebruik van groen waterpoele is nie geskik vir baberboerdery in Suid-Afrika nie omdat die klimaat te koud is vir optimale groei regdeur die jaar. Enige area waar ‘n temperatuur-beheerde omgewing geskep kan word, kan geskik wees vir baberproduksie.

Temperatuurbeheer, goeie waterkwaliteit, uitstekende kos en goeie bestuur is almal noodsaaklike elemente van baberboerdery. Konstante kragtoevoer is ook van uiterste belang omdat baberboerdery nie daarsonder moontlik is nie.

Groeifases van Babers

©Leslie Ter Morshuizen

Ten spyte daarvan dat die baber ‘n uiters taai vis is om mee te boer, is hulle verrassend kwesbaar in die broeistadium.

Lewe in gevangenisskap begin in die broeiery waar die volwasse babers gemanipuleer word om hul eiers en sperm te produseer. Dit word dan deur die broeierybestuurder gemeng en in tenks geplaas om uit te broei. Babereiers is sensitief vir lig en die tenks word bedek met skadunet of donker plastiekvelle om die eiers, babavissies en jong vissies in dowwe lig te hou.

Babers doen alles vinnig en uitbroei is nie ‘n uitsondering nie; die eiers sal 24 uur na bevrugting uitbroei. Die kleintjies benut hulle dooiersakke vir ongeveer 48 uur voordat hulle vir die eerste keer begin vreet. Op hierdie stadium word die kleintjies ‘n mengsel van natuurlike en kunsmatige kos gevoer wat lei tot uiters vinnige groei.

Omdat die baber kannibalisties is, moet hulle weekliks gesorteer word om te verseker dat elke tenk slegs vissies van dieselfde grootte bevat, anders vreet die groter visse die kleintjies.

Groei in gevangenisskap is snel, met babers wat tot 1 kg bereik in die ses maande nadat hulle uitgebroei het, en 2 kg op agt maande. Om hierdie snelle groei te verseker, word ‘n hoë kwaliteit dieet gevoer. Die kos lyk soos hondekorrels en bevat soja, mielies, koring, dieremeel (bloed, been, pluimvee ens.) en ‘n vitamien-mineraal- premix. Daar is ongelukkig slegs twee fabrieke in Suid-Afrika wat baberkos vervaardig en die voerkostes kan hoog wees sodat dit tot 2/3s van die totale grootmaakkoste beslaan. 

Bemarking van Babers

©Leslie Ter Morshuizen

Hoewel die broeifase uitdagings bied, is die moeilikste hekkie om oor te kom vir die baberboer steeds die suksesvolle bemarking van die vis sodra hulle gereed is (swaar genoeg is) vir die mark. In ‘n RAS kan jy daagliks, weekliks of maandeliks oes aangesien produksie voortdurend is. Babers word oor die algemeen verkoop as hulle 1 kg weeg, met slegs binnegoed verwyder. Baber kan gefileer word vir nismarkte maar dit word as te duur vir die algemene mark beskou. 

Binne Suid-Afrika het die fyn, sagte babervis nog nie die gewildheid bereik wat dit verdien nie. In Sentraal- en Wes-Afika is hierdie spesies ontsettend gewild met meer as 250 000 ton wat jaarliks geproduseer word in Kameroen, Nigerië en die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Wat wel gewild byk te wees in Suid-Afrika, is waarde-toegevoegde baberprodukte soos wors, pâté en vleiskoekies sowel as gerookte baberfilette. Dit word verwag dat die vraag na hierdie spesies sal toeneem soos wat verbruikers die gesondheidswaarde en kulinêre voordele van die eet van baber begin besef.

Translated by Elna Van Rhyn