Hoe om Konynvleis te Kook

© Coniglio

Konynvleis is ’n gesonde maer witvleis. Dit is basies vetvry met die enigste vet op die karkas rondom die niere en dun repe op die skouers. Die vleis is hoog in proteïen (so hoog soos 20%, afhangende van hoe die konyn gevoer was) en baie laag in cholesterol. Dit is ’n ideale vleis vir gestremde persone en atlete aangesien dit baie verteerbaar is.

Konynvleis kan in enige hoenderresep gebruik word, maar dit moet nooit oorgaar gemaak word nie aangesien dit die vleis droog en taai sal maak. Aangesien daar nie vet in die vleis is nie is dit raadsaam om die vleis te marineer voor die gaar gemaak word sodat dit klam bly. ’n Marinade kan gemaak word van olie, tamatiesous, wyn, knoffel, sout en peper of enige beskikbare of wenslike kruie soos koljander en pietersielie.

’n Gewilde kookmetode is om die hele konyn in ’n ryk aftreksel halfgaar te kook. Die aftreksel kan gemaak word van die dele afkomstig van die karkas, insluitende diekop, niere, hart, ens. Hou die lewer vir patee. Voeg uie, wortels, knoffel en ’n bietjie hoendervet, of enige ander vet, by. Aftrekselblokkies, soos hoender of brandrissie, is ook goeie byvoegings. Na die konyn halfgaar gekook is, sny dit in porsies, doop dit in eier en broodkrummels en bak dit in olie. Voeg sout, peper en/of ander speserye en kruie by en geniet ’n heerlike maaltyd!

Konyne kan oor oop vure gaargemaak word. Marineer eers die konynvleis en braai dit vinnig sodat dit nie uitdroog nie. ’n Goeie idee is om dit eers halfgaar te maak en dan met ’n lekker marinade te besmeer sodat die vleis sappig bly.

Konynlewers kan gebruik word om ’n uitstekende patee te maak deur eenvoudige bestanddele soos uie, kruie, botter en sjerrie of brandewyn te gebruik. Kook die lewers met uie en kruie tot al die vog in die uie en lewers uitgekook het. Verwyder van die hitte, voeg dit botter en drank by en vermeng dit in/met ’n kombuistoestel van u keuse totdat dit heeltemal glad is.

Translated by Nina Joubert