Dwarsdeur die Zulu geskiedenis is daar skaars 'n aspek van tradisionele Zulu lewe waarin godsdiens nie 'n rol gespeel het nie: in oorlogvoering, in seremonies, in die verskillende stadiums en krisisse in mense se persoonlike lewens, in die landbou en ekonomiese welstand ens.
Ten alle tye is die voorouers beskou as die bron waaruit hulp en leiding verkry word na toepaslike versoening en offerandes. Bykomend tot die respek wat hulle hul voorvaders wys, het die Zulu ook in 'n bonatuurlike wese geglo, Unkulunkulu, wat uit ʼn bed van riete opgespring het; en wat al die wilde diere, vee, slange en voëls, water en berge, sowel as die son en die maan geskep het.
Volgens Zulu oortuigings het die mense 'n liggaam (umzimba) en 'n gees of siel (idlozi). Daarbenewens is daar die inhliziyo (hart of gevoelens), die ingqondo (brein, verstand, begrip) en die isithunzi (skaduwee en persoonlikheid). Die Zulu glo dat die isithunzi die voorvaderlike gees word na die dood, maar eers nadat die ukubuyisa seremonie uitgevoer is, waartydens die gees ‘teruggebring’ word huis toe.
Offerhande speel 'n belangrike rol in die handhawing van kontak met die voorvadergeeste, die verskaffing van 'n ‘brug’ wat die individu in staat stel om vir gunste van die voorvadergeeste te vra en om hulle te bedank vir hul seëninge. Daar word geglo dat voorvadergeeste die mag het om die kragte van die natuur te reguleer as hulle genader word voor alle belangrike gebeurtenisse.
Die Zulu onderskei tussen twee klasse van offerhande. Die dankbaarheid (ukubonga) offerhande wat plaas vind wanneer iets goeds gebeur, soos wanneer 'n seuntjie puberteit bereik, wanneer daar genoeg kos is, of wanneer die lewe in die Umuzi voorspoedig verloop en daar min siektes is.
Die ukuthetha, aanmaning offer, vind plaas wanneer mense van die Umuzi onverwags sterf, of wanneer dinge lyk of dit verkeerd gaan en die individu dit voel asof hy/sy vervolg word. Alle offerhande, wat gewoonlik beeste of bokke is, word volgens rituele en die streng nakoming van prosedure en protokol uitgevoer, en indien dit nie nagekom word nie sal dit geen voordele vir die slagoffer bring nie en kan dit selfs skadelik wees.
Gedurende die 20ste eeu het baie tradisionaliste lede deel van onafhanklike kerke geword, wat daarop gemik was om Christelike praktyke met respek vir die voorvaders te kombineer. Een van hierdie, die Ibandla lamaNazaretha, is veral gewild onder die plattelandse Zulu.
Dit is in 1911 deur Jesaja Shembe gestig, en staan bekend in die volksmond as die Shembe Kerk. Die hoofkwartier van hierdie kerk is by Inanda aan die buitewyke van Durban in KwaZulu-Natal. Daar is baie volgelinge in landelike gemeenskappe wat kenmerkende kralewerk klere dra en wat deur middel van sang en dans aanbid.
Translated by Wilma Koeppen