Gewurtztraminer

© Altydgedacht Vineyards

Naam

Gewürtztraminer

Beskrywing

Gewürtztraminer is ’n mutasie van die Roter Traminer wyndruif wat al vir eeue lank in Duitsland groei. Hierdie mutasie is gekies vir die kenmerkende blom en spesery boeket en is een van die belangrikste druifvariëteite in Alsace, Frankryk. Die woord ‘gewürtz’ beteken spesery en verwys na die smaakvolle aroma van die wyn.

Oorsprong

Duitsland

Ander Name

Gewürtztraminer is ook bekend as Roter Traminer, Traminer (Duitsland), Gentil Rose Aromatique (Frankryk) en Clevner.

Produksie in Suid Afrika

Gewürtztraminer is in 1964 na Suid Afrika gebring en slegs 106 hektaar is onder produksie. Die meeste wingerde word in die Stellenbosch (42ha) en Roberston (36ha) areas gevind.

Die oudste wingerdstokke wat steeds in produksie gebruik word, is in 1981 op die plaas Zevenwacht geplant. Hierdie druifvariëteit is nie baie gewild nie en in 2016 is slegs 1 hektaar nuwe wingerdstokke aangeplant.

Groei

Gewürtztraminer groei nie maklik nie en het ’n lae opbrengs van 10 – 12 ton per hektaar. Dit groei opwaarts en die blare vorm ’n digte loof wat dikwels uitgedun moet word om te verseker dat genoeg sonlig op die druiwetrosse skyn sodat dit gelyk ryp kan word.

Oestyd

Gewürtztraminer word vroeg ryp, gewoonlik in die eerste week van Februarie.

Blare

Gewürtztraminer se ronde blare is klein en omtrent heeltemal gelob met oneweredige rande.

Druiwekorrels

Hierdie kultivar het klein trosse met klein, ronde korrels wat dik, ferm doppe het. Die druiwekorrels is ’n dowwe rooi as dit ryp is.

Siektes en Plae

Gewürtztraminer is vatbaar vir donsskimmel en oïdium (witroes) en geneig tot rypskade en om deur voëls beskadig te word as gevolg van die vroeë bot en rypwording.

Gebruik

Gewürtztraminer produseer ’n ligte witwyn, gewoonlik die tradisionele semi-soet tot soet styl, maar toenemend word ’n droë witwyn geproduseer.

Smaak

Gewürtztraminer het ’n kenmerkende roos en somtyds lietsjie aroma. Met ’n relatiewe lae suurvlak toon die wyn ’n komplekse aroma met geure soos heining, Turkish Delight of gemmer. Wyn wat in koel klimaatstoestande geproduseer word het ’n ryk speseryagtige muskadel smaak en ander wat van oorryp druiwe gemaak word is minder delikaat met ’n pynappel geur.Translated by Ananda Schoeman