Eiervrug Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Eiervrug plant voort met die saai van saad.

Hoe om te Plant

Eiervrug saad word soms direk in beddings gesaai, maar die meeste produsente plant saailinge uit as dit 10 cm – 15 cm groot is. Eiervrug word beide met die hand en meganiese planters geplant.
In goed dreinerende sanderige grond word eiervrug met die hand direk in die beddings geplant, maar waar dreinering ’n probleem is word dit in ’n bedding wat opgeërd is geplant. Produsente gebruik ’n swart plastiek deklaag om onkruid te beheer, vog te behou en ’n warmer omgewing te skep.

Spasiëring

Eiervrug word normaalweg 50 cm uitmekaar in rye wat 75 cm van mekaar af is geplant. Daar word paaie gelos vir plaasimplemente en arbeiders wat tussen die rye moet beweeg. Dit is ongeveer 25 000 plante per hektaar.

Saaityd

Die saad word tussen laat Augustus as die temperature begin styg en Oktober gesaai. Saad kan vanaf Julie in kweekhuise geplant word vir die maak van saailinge. Dit word teen die einde van Augustus uitgeplant.

Planttyd

Plant eiervrug saailinge vanaf Augustus tot Desember. Later uitplanting kan in warmer gebiede wat nie ’n vroeë herfs koue ervaar nie gedoen word.

Groeiperiode

Eiervrug kan so vroeg as op tien weke in optimale klimaatstoestande geoes word. Gereelde en volgehoue oes is vanaf 12 weke tot 20 weke na planttyd. Sommige produsente wat laat winters kry of in meer tropiese klimaatstreke geleë is, kan die plante na die eerste oes terugsny en in die herfs ’n tweede oes kry.

Bemesting

As saailinge uitgeplant word moet daar 500 kg - 1000 kg 2: 3: 4 (30) (’n mengsel van stikstof, fosfaat en kalium) per hektaar in die boonste 20 cm van die grond ingewerk word. Die werklike hoeveelheid sal afhang van die resultate van die grondmonsters wat geneem is. Ongeveer vyf tot ses weke na die aanplant moet ’n bykomende toediening van stikstof in die vorm van ongeveer 250 kg - 400 kg KAN gegee word.
Dit behoort die plant deur oestyd te dra. Hierdie tweede toediening kan in twee gedeel word en op vyf en agt weke toegedien word. As vloeibare kunsmis gebruik word, wat gewoonlik die geval is met ’n swart plastiek deklaag, word tussen vier en vyf kilogram stikstof per week saam met die besproeiing toegedien. Daar word aanbeveel dat jy jou plaaslike landbou voorligting tegnikus vir jou spesifieke boerdery se vereistes raadpleeg.

Besproeiing

Dit is altyd die beste om sensors wat die voginhoud van die grond meet regdeur die aangeplante area te hê. ’n Vogmeter kan ook gebruik word om die grond se vogvlakke te toets.
Waterstres tydens blomtyd en vrug is nadelig vir die gewas se ontwikkeling. ’n Goeie gemiddeld vir besproeiing is tussen 20 mm en 35 mm water per week. Gedurende baie warm klimaatstoestande en ’n relatiewe lae humiditeit kan besproeiing 40 mm per week oorskry. Uitdroging in die boonste 50 cm van die grond, waar die meeste van die water en voedingstowwe geabsorbeer word, moet vermy word.

Translated by Ananda Schoeman