Eiervrug Gewasbestuur

© Louise Brodie

Wisselbou

Eiervrug moet met nie-Solanaceae (aartappel-familie) gewasse afgewissel word om peste en siektes te voorkom.

Opbrengs (ton per hektaar)

Konserwatief: 12 ton
Gemiddeld: 20 ton
Goed: 30 ton
Produsente wat die plante ná die eerste oes terugsny, gewoonlik in gebiede waar ’n warm klimaat ook tydens herfs voorkom, kan ’n tweede keer oes en dit verhoog die opbrengs tot 40 ton per hektaar.

Oes

Oes begin vanaf 10 weke na planttyd en kan maande lank voortduur. Eiervrug word met die hand met ’n mes geoes. Sodra die eiervrug eenvormig van kleur is en begin blink, is dit tyd om te begin oes.
Deurlopende oes bevorder die groei van die eiervrug en onryp vrugte word vinniger ryp. Die eiervrug word na oes gewas, drooggemaak en in kratte verpak. Sorg moet gedra word om nie die skil te beskadig nie aangesien dit die eiervrug vinniger sal laat vrot.

Berging

Eiervrug kan vir ’n maksimum van 14 dae by 10°C teen ’n relatiewe hoë humiditeit gebêre word. Eiervrug is baie bederfbaar en moet so gou moontlik na die oes verkoop word.

Siektes en Plae

Vir die gepaste bestryding van siektes en plae is dit raadsaam om die aanbevelings van u plaaslike landbou-voorligtingstegnikus of u chemiese maatskappy se adviseur te volg.

Plae

Algemene peste is die knopwortelaalwurm (root-knot nematodes), rooispinmyt (red spider mite), snywurm (cutworm), Amerikaanse bolwurm (American bollworm), verwelkbesie (tip-wilter) en plantluis (aphid).

Siektes

Algemene siektes is bakteriese verwelk (bacterial wilt), Verticillium verwelk (Verticillium wilt), poeieragtige skimmel (powdery mildew), antraknose (anthracnose) en ander blaarvlek siektes, tabak ringvlek-virus (tobacco ringspot virus) en botritis (botrytis).

Translated by Ananda Schoeman