Damasseense Roosolie in Suid-Afrika

© Highlands Essential Oils
Die essensiële olie word geproduseer uit Rose Damascena rose. Rosa Damascena is inheems aan die Midde-Ooste en word in Turkye en Iran gevind, maar die grootste roos aanplantings is in Sentraal-Bulgarye. Roosolie word al eeue lank gebruik om asma, hoes, kongestie en koors te behandel, maar word ook gebruik vir parfuum, in velprodukte en skoonheidsmiddels.
Die opbrengs van die olie hang af van verskeie toestande, insluitende klimaat, oestyd, toestand van die blomme en die metode van distillasie. In die middel van die oestyd is die opbrengs hoër as aan die begin, terwyl gemiddelde weerstoestande die opbrengs verder sal verhoog.
Roosolie word deur stoomdistillasie uit die vars blomme onttrek en lewer ’n liggeel olie wat was-agtig word teen kamertemperatuur. Ongeveer 1 kg roosolie word uit 4 000 kg vars rose verkry. Roos-was word vervaardig deur ekstraksie met heksaan en ongeveer 1 kg roos-was word van 350 kg vars blomme vervaardig. Roosblaar-was word ook vervaardig.
Roosolie bevat vitamiene, minerale, antioksidante en anti-inflammatoriese middels en is geskik vir die gebruik op alle veltipes, insluitende sensitiewe en olierige vel. Dit help om rooiheid te verminder en het uitstekende bevogtiging eienskappe. Daarbenewens kan roosolie help om psoriase te behandel en wonde te genees. Die gebruik van roosolie in ’n warm of koue kompres kan swelling verminder en krampe, insluitend menstruele pyn, verminder. Roosolie word in Clocolan in die Vrystaat en die Hogsback-omgewing van die Oos-Kaap geproduseer. Rosa Damascena floreer in hoë reënvalgebiede en koel klimate, aangesien die rose ’n koue winter nodig het om blomproduksie te stimuleer. Weens die kort blomseisoen word dit slegs een keer per jaar geoes.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Ananda Schoeman