Cinsaut

© Glenneis Kriel

Beskrywing

Cinsaut noir is ‘n wyndruif variëteit wat hoofsaaklik gebruik word in die produksie van rooi- en roséwyne, maar ook bandewyn en port. DNS analise het bewys dat dit waarskynlik ‘n afstammeling is van Rivairenc. Die identiteit van die ander ouer is steeds onbekend.

Oorsprong

Cinsaut noir is ‘n Mediterreense variëteit. Dit is verbou in die suide van Frankryk, spesifiek in die Languedoc-Rousillon streek, sedert die mid-1600’s, hoofsaaklik as ‘n versnit-druif.

Ander Name

Dit het vele ander name, met Cinsaut as die mees algemene een. Dit is eers Hermitage in Suid-Afrika genoem, totdat Dr Abraham Izak Perold van die Universiteit van Stellenbosch in 1927 bewys het dat dit dieselfde variëteit is as die Cinsaut noir van die suide van Frankryk.

Verbouing in Suid-Afrika

Die variëteit word al sedert die 1850’s in Suid-Afrika verbou en was die ruggraat van die rooiwynbedryf tot in die 1960’s vanweë die vermoë om hoë opbrengste te lewer. Aanvanklik is dit gebruik vir massaproduksie, maar later ook vir van Suid-Afrika se top versnitte.

Dit was vir ‘n lang tyd die mees geplante rooi variëteit - meer as ses keer soveel as enige van die ander top ses rooiwyn druifsoorte teen 1976. Die variëteit het egter in onguns geraak rondom die 1990’s omdat wynbouers meer begin fokus het op die produksie van kwaliteit-wyne. Dit het daartoe gelei dat Cabernet Sauvignon, Shiraz en Pinotage Cinsaut noir onttroon het as die mees geplante variëteit.

Die variëteit geniet in die laaste paar jaar hernude belangstelling nadat ‘n nuwe generasie wynmakers begin het om te eksperimenteer met nuwe style en maniere om Cinsaut wyne te produseer. Hulle het bewys dat die variëteit oor die potensiaal beskik om uitstekende, elegante wyne te lewer indien ordentlik bestuur.

Nogtans het die area onder verbouing aangehou om te krimp, sodat Cinsaut vandag minder as 2% van die totale oppervlakte onder wyndruifverbouing uitmaak. In 1925 is dit gekruis met Pinot Noir om die ware Suid-Afrikaanse variëteit, Pinotage, te produseer.

Produksiestreke

Die Paarl en die Breedekloof het die grootste areas onder Cinsaut noir produksie, gevolg deur die Swartland, waar dit die “Pinot noir” van die streek genoem word weens die uitstekende wyne wat in die streek daarvan gemaak word.

Groei

Die variëteit is ‘n matige lewenskragtige groeier, wat rank met dun lote. Dit kan opgelei word of as bosstokke benut word. Dit het ‘n hoë leweringspotensiaal wat wissel tussen 16t/ha tot 20t/ha, maar opbrengs moet beperk word indien die doel is om goeie kwaliteit wyne te produseer.

Rypwording

Druiwe word ryp in die midseisoen, vanaf die eerste helfte van Maart.

Korrels

Die korrels is aansienlik groter as korrels van ander rooidruifvariëteite. Hulle het ‘n donkerblou kleur indien hulle geproduseer is onder vrugbare toestande en word nog donkerder, amper swart, wanneer hulle geproduseer word onder minder vrugbare toestande. Die doppe is dik en taai en die binnekant is sappig.

Blare

©Glenneis Kriel
Blare is rond, vyflobbig en het ‘n ligte tot medium groen kleur.

Peste en Plae

Hierdie variëteit is gevoelig vir sonbrand en hoë humiditeit kan korrels laat oopbars.

Gebruike

Dit word gebruik om enkelvariëteit wyne te produseer, maar meer dikwels om sagtheid en karakter te verleen in versnitte met Carignan, Shiraz en Grenache.

Smaak

Die variëteit lewer wyne met sagte vrugte aromas wat wissel van steenvrugte tot bessies en granate. Wyne is gereed om gedrink te word op ‘n baie jong ouderdom.Translated by Elna Van Rhyn