Die Bosnoemnoem
Die bosnoemnoem is 'n doringrige struik met geurige wit stervormige blomme en soet rooi vrugte. Dit is inheems aan die kusstreke van die KwaZulu-Natal provinsie van Suid-Afrika. Die Carissa macrocarpa word ook Natal pruim, groot noemnoem of amatungulu (Zoeloe) genoem, terwyl sy kleiner broertjie Carissa bispinosa ook bekend staan as die Oos-Afrika noemnoem. Carissa bispinosa is 'n kleiner, laer-groeiende plant maar met ewe lekker, kleiner vrugte. Die Arabiese noemnoem (C. edulis) produseer ook klein soet vrugte.
‘Carissa’ kom van die Indiese naam vir plante van hierdie genus, wat 'n bitter en giftige stof bevat in die bas, wat ‘carrisin’ genoem word. 'Bispinosa' beteken ‘twee dorings’ en verwys na die dorings op die plante. Die volksnaam ‘noemnoem’ verwys waarskynlik na die geluid van lekkerkry wanneer die vrugte gëeet word…
Tradisioneel word noemnoems vars geeët, maar ook gebruik vir konfyte en jellies. Die wortels word gebruik om tandpyn te behandel, terwyl die Swazi-mense die noemnoem gebruik in 'n tradisionele seremonie waar dit aan 'n bul gevoer word om sy aggressie te verhoog voordat dit deur Swazi-krygers doodgemaak word.
Moderne gebruike is meestal kulinêr. Noemnoems is baie lekker wanneer dit gekombineer word met gebakte kweper of pere. Dit voeg 'n geurigheid by blatjang en uiemarmelade en kan gekook en effens gedroog word voordat dit in muffins gebak word.
Noemnoems is in die 1880's in Amerika bekendgestel en het intussen 'n gewilde sierplant in Kalifornië en Florida geword. Dit het later versprei na ander lande soos Israel, Puerto Rico, die Filippyne en Indië.
Noemnoems is rooi en ovaalvormig en kan wissel van 1,5 tot 5 cm, afhangende van die kultivar. Die vlesige vrugte kan van Maart tot Oktober gepluk word en het 'n wit taai 'melk' (‘latex’) wanneer dit gepluk of gebyt word. Noemnoems is hoog in vitamien C, kalsium (Ca), magnesium (Mg) en fosfor (P) en het baie pektien wat help om lae-pektien konfyt soos aarbeikonfyt te laat stol. Die sagte sade is eetbaar. Die plant se blare is gewild met koedoes terwyl ape en sekere voëls die vrugte eet.
Die noemnoems word maklik gekweek van saad of steggies. Die ontkiemingproses word bespoedig deur die sade in warm water te week. Noemnoems begin eers na twee jaar vrugte dra. Die immergroen water-slim plant vorm dik struikagtige massas en word in bosveld, kus of woudagtige dele van alle provinsies in Suid-Afrika aangetref, behalwe die droë Noord-Kaap.
Noemnoems maak goeie sierplante en kan 1 m (of nader) van mekaar geplant word om heinings te vorm, maar moet gesnoei word om in vorm te bly. Hulle verkies ligte, goed gedreineerde grond met baie kompos en kan óf in volle son óf semi-skaduwee groei.
Noemnoems is relatief droogtebestand en kan seelug weerstaan, maar is sensitief vir ryp en koue winters. Dit word dikwels in openbare ruimtes soos parkeerareas as heinings gebruik. Die noemnoem is ook 'n baie gewilde bonsai boom.
Mediese Vrywaring
Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word en is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.
Translated by Hazel Oliver