Bloekom Olie

© Geekstreet
Eucalyptus is oorspronklik deur die oorspronklike inheemse Australiërs vir sy antiseptiese eienskappe gebruik. Die Sjinese, Griekse en Europese geneeshere het bloekom as ’n ontsmettingsmiddel en ekspektorant gebruik. Bloekom is nie inheems aan Suid Afrika nie. Blare word van spesiaal aangeplante tuine en plantasies geoes.
Die belangrikste olieproduksie bloekom spesies wat in Suid-Afrika gekweek word, is Eucalyptus smithii, Eucalyptus dives en Eucalyptus australiana. Eucalyptus olie het antivirale en antibakteriese eienskappe wat verkoue en griep simptome kan verlig. Dit help met sinus kongestie (deur stoom inaseming) en word gebruik in saunas teen spierpyn. As gevolg van die antimikrobiese eienskappe word dit ook in skoonmaakprodukte gebruik. Dit is ’n uitstekende insek afweermiddel en kan gebruik word om troeteldiere en hulle beddegoed te was. Een baie belangrike voordeel van Eucalyptus-olie is die vermoë om geestelike uitputting aan te spreek deur sy verfrissende eienskappe. As ’n stimulant help dit met uitputting en verstandelike traagheid en om die gees te vernuwe. Dit kan ook in klaskamers as ’n vorm van aromaterapie gebruik word.
Bloekomolie moet nie deur verwagtende moeders, kinders of mense met lae bloeddruk, diabetes of lewer, nier en maagaandoenings gebruik word nie. Die olie is vlambaar en moet weggehou word van ’n oop vlam soos ’n kers. Suid-Afrikaanse bloekomolie produksie verteenwoordig ongeveer 5% van die wêreld se aanvraag. Ander hoof produsente is Sjina en Australië. In Suid Afrika word die bome in Mpumalanga en KwaZulu-Natal aangeplant. Die hoof produksiefasiliteit is in Richmond in KwaZulu-Natal.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Ananda Schoeman